Op boere se sosialemedia-groepe is beeldmateriaal en foto’s van trekkers, planters en hoogloopspuite wat vasval, die afgelope week wyd versprei. Vir dié wat gesukkel het om te plant, was daar darem die troos dat hulle nie alleen in die moeilikheid is nie.
Die rede waarom boere so dringend probeer klaar plant, is natuurlik omdat die seisoen nou begin aanstap. As daar veral in die Oos-Vrystaat nog nie klaar mielies geplant is nie, is dit neusie verby vir dié seisoen. Daar het die optimale planttyd vir mielies reeds op 1 Desember tot ’n einde gekom – maar dit bly plek-plek steeds te nat om te plant. Daar kan nog sojaboonkultivars met ’n korter groeiseisoen geplant word, maar selfs vir sojabone eindig die optimale planttyd in die Oos-Vrystaat teen die tweede week van Desember.
“Ek hoor die ouens om my gaan probeer druk om nog tot 7 Desember mielies te plant, as die weer hulle kans gee,” vertel mnr. Jacques Prinsloo van Reitz wat vir die maatskappy Fick en Seuns Beleggings boer. Dié jongboerkomiteelid van Vrystaat Landbou (VL) sê hy is een van die gelukkiges wat die hele seisoen tot dusver kon plant. Tog kon 20% van sy beoogde aanplantings steeds nie gedoen word nie. “Dis swaarder grond wat water terughou, en daar lyk dit lyk soos ’n moeras op die oomblik.”