Koringboere sal al hoe meer by voortgesette navorsing en nuwe tegnologie betrokke moet raak. Uiteindelik stel die voordele wat navorsing en nuwe tegnologie bied, boere in staat om onder meer produksiekoste te verlaag en hulpbronne optimaal aan te wend, het dr. Cobus le Roux, direkteur van die LNR-Kleingraaninstituut op Bethlehem, op die jaarlikse Mega Week op Bredasdorp gesê.
Net met doelgerigte navorsing kan die opbrengs per hektaar verhoog en ander beperkinge op produksievlak reggestel word. Produksiekoste, soos bemesting, bewerking, siekte- en onkruidbestryding, kan ook doeltreffender beheer word.
Daar is verskeie voorbeelde van die toepaslikheid en die finansiële voordele van behoefte-gedrewe navorsing. Die navolging van die korrekte verbouingspraktyke wat deur navorsing daargestel is, stel boere in staat om hul netto inkomste aansienlik te verhoog. Navorsing illustreer dat 'n enkele aspek, soos die regte keuse van kultivars, 'n waarde van tot soveel as R998/ha tot 'n graanoes kan voeg.
Nog 'n voorbeeld is plantdatums. Die instituut stel optimum-plantdatums beskikbaar soos van toepassing op verskillende kultivars en streke. Deur daarvolgens te handel, kan die inkomste met tot 24 % verhoog word.
Bestuursbesluite hou ook groot geldelike gevolge in. Die doeltreffende bestryding van blaarsiektes het byvoorbeeld in die Wes-Kaap gewissel van 'n verhoging van R633/ha in die netto inkomste, tot 'n verlies van R117/ha.
Deur geelroes met die korrekte middel en in die korrekte groeistadium te bestry, kan opbrengsverhogings van onderskeidelik 24 % (R1 234/ha) en 31 % (R1 049/ha) behaal word (figuur 1).
In die omgewing van Moorreesburg en Riviersonderend was die verskil in doeltreffendheid tussen die beste en swakste geregistreerde swamdoders onderskeidelik R819/ha en R559/ha. 'n Verskil van 30 % in die doeltreffendheid van die beste en swakste kombinasies van onkruiddoderhulpmiddels hou geldelike gevolge van tot soveel as R200/ha in, sê dr. Le Roux.
Die toepassing van verfynde stikstofbestuurstelsels om koring se proteïeninhoud bo 12 % te handhaaf, verseker byvoorbeeld dat die netto inkomste met onderskeidelik R240/ha en R720/ha in droëland- en besproeiingstoestande toeneem.
"Hierdie is maar enkele voorbeelde van hoe die regte bestuursbesluite, aangehelp deur goeie navorsing, talle kleingraanprodusente in staat stel om winsgewender te boer. Daarmee word ook Suid-Afrika se voortgesette mededingendheid op die wêreldmarkte verseker."
Dr. Le Roux sê navorsing moet ook verseker dat Suid-Afrika se natuurlike hulpbronne nie net beskerm nie, maar ook verder opgebou word. Nuwe en opkomende boere moet verseker word van volgehoue ondersteuning. Die produksie van uitstekende koring en gars is nóg uitdagings wat aan navorsing gestel word.
Goeie navorsing is egter net moontlik waar deurlopende finansieringsprogramme bestaan.
Nóg die private sektor nóg die staat is alleen daartoe in staat om noodsaaklike landbounavorsing en tegnologiese ontwikkeling te finansier. Boonop bestaan daar nêrens, plaaslik of in die buiteland, suksesvolle finansieringsmodelle wat as riglyn gebruik kan word nie.
Suid-Afrika se Wintergraantrust - wat 'n bepalende rol in die finansiering van behoefte-gedrewe navorsing speel - word soos volg gefinansier: (die bedrag in hakies is die ou heffing wat tot einde September gegeld het): koring en gars R6,50 (R4,00) per ton; hawer R4,50 (R4,00) per ton, en durum, wat onveranderd op R4,00 per ton bly. Hierdie heffings is van toepassing op alle plaaslik geproduseerde sowel as ingevoerde graan.
In die geval van koring het die ou heffing net 0,22 % verteenwoordig as dit teen 'n prys van R1 800/t bereken word. Anders gestel, kom dit neer op 0,1 % per hektaar met 'n opbrengs van 2,2 ton. Internasionaal gesien, beloop hierdie navorsingsheffing 1 % van die produk se plaashekwaarde, wat neerkom op sowat R18 per ton.
Veral teen die agtergrond van die finansiering van soortgelyke internasionale navorsingsinstansies, is die Suid-Afrikaanse kleingraanbedryf se bydrae prysenswaardig. Staatsondersteuning van landbounavorsing sien soos volg daaruit: Amerika: 90 % (en hoër), Kanada: 89 %, Brasilië: 94 %, Australië: 83 %, Nieu-Seeland: 63 %, LNR Suid-Afrika: 66 % en LNR-Kleingraaninstituut: 40 %. Figuur 2 wys die Kleingraaninstituut se verdeling van geld.
Sowat R2 447 600 word aan die LNR-Kleingraaninstituut vir navorsing deur die Wintergraantrust in die Wes-Kaap bewillig. In totaal bestee die Kleingraaninstituut sowat R6 765 590 daar op navorsing. Die gesamentlike bydrae van produsente en die nywerheid maak dus 36,2 % en dievan die LNR-Kleingraaninstituut 63,8 % van die totale belegging in die Wes-Kaap uit.
Koringnavorsing bied opbrengste op beleggings wat 28 % tot 34 % beloop en is volgens alle maatstawwe 'n goeie belegging, meen dr. Le Roux. Die beleggings is selfs nóg lonender as dit by navorsing op projekvlak kom, byvoorbeeld oor die Russiese koringluis. Daar lewer dit opbrengste van 35 % tot 49 %.
Dr. Le Roux sê daar moet dringend aandag aan 'n aantal
aspekte van die finansiering van landbounavorsing gegee word. Hy stel onder meer
die volgende voor:
'n Kontraktuele finansieringsooreenkoms moet tussen
die Regering en die kleingraanbedryf aangegaan word. Só 'n ooreenkoms moet
verkieslik gesien word as 'n vennootskap tussen die staat en die boer,
waarvolgens geldelike bydraes op 'n gelyke grondslag geskied.
Parlementêre toekennings moet eweneens regmatig aan
die verskillende landboubedrywe toegedeel word.
Funksionele infrastrukture vir landbounavorsing moet
in stand gehou word, met veral die voortdurende beskikbaarheid van opgeleide
mannekrag as 'n voorrangsaak.
Dr. Le Roux sê die kleingraanbedryf voldoen grootliks aan pres. Thabo Mbeki se Strategiese Landbouplan. Suid-Afrika is vandag nie alleen selfvoorsienend ten opsigte van bekostigbare koring nie, maar ook internasionaal sterk mededingend - ten spyte van dikwels ruim subsidies wat veral aan boere in die Noordelike Halfrond uitgedeel word. Sulke subsidies grens dikwels aan die absurde. Suid-Afrika self produseer nou dubbeld soveel koring as in 1960 en dít op slegs 69 % van die oppervlakte. Ten opsigte van die bak- en maalwaarde vergelyk die gehalte hiervan uitstekend met die beste ter wêreld (tabel).
TABEL: Strategiese voordele van die Suid-Afrikaanse koringbedryf wat gehalte betref | |||||
Lande | Gehalteriglyne | ||||
Proteïen (%) | Voginhoud (%) | HLM (kg/hl) | Valgetal (sek.) | Sifsel (%) | |
VSA-DNA | 13,0 | 13,0 | +77 | 300 | <5 |
Kanada-DWS | 13,0 | 13,5 | +80 | 300 | <2 |
Australië PW | 10,5 | 13,0 | 81-82 | 300 | <2 |
Australië AH | 11,5 | 13,0 | 81-82 | 300 | <2 |
Suid-Afrika1 | 12,2 | 13,0 | 78,9 | 358 | 1,66 |
Suid-Afrika2 | 11,7 | 13,0 | 78,8 | 328 | 1,29 |
1 = SAGL: 1999/00-seisoen | |||||
2 = SAGL: 2000/01-seisoen | |||||
HLM= hektolitermassa | |||||
(SAGL = SA Graanlaboratorium)
|
Suid-Afrika het sowat 5 600 koringboere wat altesame R4,7 miljard vir hul produk ontvang. Die plaashekwaarde van die gars wat in Suid-Afrika geproduseer word, is R0,32 miljard. As die waarde ingereken word wat meulenaars en bakkers toevoeg, styg die geldwaarde van die koringbedryf verder met nóg R5 miljard tot R6 miljard.
In die Wes-Kaap kos dit sowat R987 om 'n ton koring te produseer. Daarenteen kos dit R1 900 tot R2 400 om een ton koring in te voer. Met uitvoer kan (met die skryf hiervan) sowat R1 150/t verdien word.
Dr. Le Roux beskou die volgende aspekte as noodsaaklik
vir die instandhouding van 'n gesonde koringbedryf:
- Ten opsigte van die wêreldmark moet die plaaslike bedryf 'n winsgewende
en mededingende produsent wees.
- Selfvoorsienendheid
- Koring as 'n basiese voedselsoort moet bekostigbaar bly en sy bekende hoë
gehalte moet gehandhaaf word.
- 'n Volhoubare infrastruktuur ten opsigte van
produksie, opberging, verwerking, vervoer en bemarking moet in stand gehou
word.
- 'n Infrastruktuur moet daargestel word wat sal
verseker dat Suid-Afrikaanse navorsing en die ontwikkeling en oordrag van
tegnologie ook internasionale erkenning sal geniet en mededingend is.
- Ondersteuning deur politieke en ander besluitnemers moet bewerkstellig
word.
4 Oktober 2002