Vinnige vordering by graangewasse – van saadteling danksy beter tegnologie tot groter droogte- en siekteweerstand – is van die neigings wat boere in die winterreëngebied opval.
Nadat die internasionale landbouchemiese en saadreus Syngenta Sensako in 2020 gekoop het, is die waardevolle naam en teelprojekte behou, maar daar is ook groter voordele waardeur die saadtelers boere beter kan bedien.
Dr. Francois Koekemoer, direkteur vir navorsing en ontwikkeling by Sensako, het onlangs op Napier gesê die verkryging van Sensako deur Syngenta maak letterlik deure oop vir Sensako.