Mnr. Gerhard Bruwer van Douglas, Noord-Kaapse Jongboer van die Jaar, speel ’n leiersrol in die bestuur van een van Suid-Afrika se grootste familieboerderye wat jaarliks derduisende ton voedsel verbou.
Gerhard en sy twee broers aanvaar die verantwoordelikheid van hul afsonderlike eenhede van sowat 2 000 ha besproeiingsgrond wat die groter Genade-boerdery van hul pa, mnr. Vickie Bruwer, uitmaak.
Gerhard boer in die Douglas-gebied (grondbone, aartappels), Vickie jr. in die Schmidtsdrif-gebied, en Hannes by Hopetown (uie en springmielies). Koring, gars, kommersiële mielies, lusern, uie, pekanneute, druiwe en ’n beesvertakking maak deel uit van die sowat tien gediversifiseerde produksievertakkings van die groter boerdery.