
Die nuwe liggingsdifferensiaal vir sojabone, wat nie meer net Randfontein as verwysingspunt het nie, gaan in Maart 2024, wanneer die nuwe bemarkingseisoen begin, in werking gestel word en vir ’n tydperk van twee jaar getoets word.
Mnr. Chris Sturgess, konsultant vir die Johannesburgse effektebeurs (JSE), het die konsep op ’n vergadering van sojaboonprodusente tydens Graan SA se kongres verduidelik en gesê dit sal binnekort begin met vooruitkontrakte vir Maart, Mei en Julie aanstaande jaar. “Aan die einde van elke seisoen sal die JSE met belanghebbendes in die bedryf vergader om die sukses daarvan te bepaal.”
Daar sal ná twee jaar besluit word of voortgegaan word met die nuwe differensiaal, maar omdat die proses ’n jaar vooruit werk, sal die toetslopie drie jaar duur. Die groot kwessie vir die JSE sal wees of gewillige verkopers en kopers mekaar met die nuwe konsep gaan vind en hoe doeltreffend die mark gaan funksioneer.
Sturgess het in antwoord op ’n vraag of die uitvoer van sojabone in die verwysingspunte in ag geneem is, gesê die tien verwysingspunte is slegs bestaande verwerkingsaanlegte. “Dit beteken nie dat dit nie kan verander in die toekoms as daar deurlopend uitvoer is nie. Dit kan egter nie binne ’n jaar hersien word nie omdat daar nie veranderinge binne ’n bemarkingsjaar aangebring kan word nie.”
Hy sê punte van uitvoer sal in ’n hersieningsproses vir die 2025-bemarkingsjaar in ag geneem kan word, net soos wat nuwe verwerkingsaanlegte en aanlegte wat sluit ook in ag geneem sal word.
Die tien verwysingspunte sal binnekort bekend gemaak word.
Opwindende tyd
“Hierdie is ’n opwindende tyd en die groot vraag bly of dit in die mark vir almal gaan werk.”
Mnr. Ralf Küsel, voorsitter van die vergadering, het daarop gewys dat die huidige seisoen se liggingsdifferensiaal vir sojabone 75% van die mieliedifferensiaal is en dit sou in die volgende bemarkingsjaar opgeskuif het na 100%. “Met die nuwe model glo ek ons gaan die differensiaal afbring na ’n meer realistiese vlak en dit is mos wat ons graag wil bereik – ’n regverdige differensiaal.”
Op die vergadering is die uitvoer van sojabone ook bespreek. Volgens die oesskatting staan die sojaboon-oes op 2,6 miljoen ton en met binnelandse verbruik van 2 miljoen ton, sal minstens 600 000 ton uitgevoer moet word. Küsel glo die oes kan selfs hoër wees en dat die surplus by 800 000 ton kan draai.
Hy sê Agriport het in April en Mei vier uitvoergleuwe vir sojabone. Dit behels vier skeepsvragte van sowat 27 000 ton elk. “Dit bring ons by sowat 110 000 ton, maar verder is daar nog nie tydgleuwe vir sojabone nie. Ander groot uitvoerders soos SADT voer net mielies uit van Maart tot Oktober.
“Dit is nou die ideale tyd om uit te voer, want ons sojabone is nou sowat R1 000/ton goedkoper as die wêreldprys. Wanneer die oeste in die Noordelike Halfrond teen Augustus begin inkom, daal die wêreldprys en dan raak ons uitvoergeleenthede minder. Daar is dus ’n risiko dat ons kan sukkel met ons uitvoer.”
Uitvoermoontlikhede by hawens
Die vergadering het Graan SA versoek om dringend met die Suid-Afrikaanse handelsvereniging vir graan en oliesade (Sacota) te vergader om na uitvoermoontlikhede te soek, ook by hawens soos Oos-Londen en Maphuto.
Mnr. Corné Louw, hoof van toegepaste ekonomie en lededienste by Graan SA, het gesê daar is tot dusver 310 000 ton sojabone uitgevoer waarvan onder meer 47% na Maleisië, 20% na Thailand, 11% na Bangladesj en 10% na Viëtnam uitgevoer is.
Oor die heffing wat sojaboonprodusente vir teling en tegnologie betaal, is dit R66/ton vir die oes wat nou op die lande is en vir die volgende oes sal dit R92/ton wees. Oor die voordele wat dit vir produsente inhou, het Küsel onder meer daarna verwys dat daar voor die heffing net sowat 5 tot 12 nuwe kultivars per seisoen beskikbaar was. Net in ses maande verlede jaar is 46 nuwe kultivars bekend gestel.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.