
Swartlandse boere kan uitsien na nuwe proewe op Langgewens, die Wes-Kaapse departement van landbou se eksperimentele plaas by Moorreesburg. Hulle gaan vanjaar ook 'n geleentheid kry om te sê wat hulle in die proewe wil sien.
Dr. Johann Strauss, wetenskaplike: volhoubare gewasverbouingstelsels en bewaringsboerdery in die direktoraat plantwetenskap van die navorsings- en tegnologiediens van die Wes-Kaapse departement van landbou, het by die Skog-inligtingsdag op Moorreesburg gesê die wisselbouproef op Langgewens loop in 2015 ná 20 jaar ten einde en dit noodsaak vernuwing. "Ons resultate van die afgelope 18 jaar toon deurgaans die waarde van wisselbou, veral waar koring en medics met mekaar afgewissel word. Dit beteken dat die resultate van toekomstige wisselbouproewe nie meer met koring in monokultuur vergelyk gaan word nie, maar met 'n stelsel van koring en medics."
Volgens hom het hulle ook in die wisselbouproewe gesien dat dit nodig is om ekstra stikstof toe te dien waar koring ná kanola geplant word. "Deesdae lewer die kanolakultivars hoër opbrengste, wat beteken dat hulle meer voedingstowwe uit die grond onttrek wat normaalweg in die volgende jaar deur koring gebruik sou word."
Strauss het gesê hulle weet nog nie hoe die volgende wisselbouproef gaan lyk nie, maar hulle wil voortgaan met bewaringsboerderypraktyke en 'n skyfplanter vir min versteuring en maksimum bedekkking insluit, en beplan om boere en ander betrokkenes by die besluite te betrek.
Hulle gaan ook alternatiewe gewasse, soos kekerertjies, en gewasse waarvan biobrandstof vervaardig kan word, van 2015 of 2016 af by die bestaande kultivar-evaluasieproewe insluit.