Koringboere het nie juis beheer oor die prys wat hulle vir hul produk ontvang nie. Om dus die verskil tussen die prys en produksiekoste te verhoog, moet hulle doen wat hulle kan om koste laag te hou en opbrengs te verhoog.
Beter kultivars en boerderypraktyke soos bewaringsboerdery het die afgelope paar dekades gehelp dat die gemiddelde koringopbrengs van 0,92 t/ha in die 1970’s tot 3,03 t/ha in die huidige dekade verbeter het (sien tabel 1).
Dr. Francois Koekemoer, navorsingsdirekteur by die saadteelmaatskappy Sensako, het op Graan SA se onlangse streekvergaderings op Riversdal en Rietpoel gesê Suid-Afrika se vordering vergelyk goed met die van Australië (selfs beter) en Suid-Amerikaanse lande.
Sekere van Sensako se kultivars het goed gevaar toe dit in Engeland en Frankryk geplant is, maar die ongunstige plaaslike toestande in vergelyking met wat in ander koringproduksielande geld, maak dit haas onmoontlik om soortgelyke hoë opbrengste te behaal (sien tabel 2).
Goeie toestande of nie, boere moet weet watter prosesse tydens die drie hoofgroeistadiums plaasvind en hoe dit opbrengs beïnvloed. “Die drie belangrikste fisiologiese stadiums is die vegetatiewe stadium, die voortplantingstadium en die graanvulstadium. Plantvoeding, plaagbestryding en waterbeskikbaarheid is baie belangrik by al die stadia.”
Koekemoer het die Zadoks-groeistadiumskaal (sien figuur 1) gebruik om sy punte te illustreer.
Verskillende bestuurspraktyke moet by die drie fisiologiese stadiums toegepas word. By die vegetatiewe fase (ontkieming tot waar die aar deur blare bedek word) is die regte plantstand en voldoende water en voedingstowwe nodig om te help met selverdeling en orgaanontwikkeling.
Doeltreffende plaagbestryding en siekteweerstand help om die prosesse onversteurd te laat plaasvind. Koekemoer sê dis baie belangrik om die vlagblaar (die laaste blaar wat verskyn) te beskerm aangesien dit so ’n groot bydrae lewer om stysel aan die pitte te verskaf.
In die voortplantingfase (vandat are buite die blare verskyn totdat hulle heeltemal oop is) is voldoende vog nodig om waterstres tydens bestuiwing te verhoed en moet plae bestry word om te keer dat swamme bestuiwing belemmer.
Tydens korrelvulstadium is genoeg vog belangrik om die vloei van assimilate na die korrels te bevorder, voldoende voedingstowwe om proteïen en gehalte te verhoog, en plaagbestryding om biotiese skade te verhoed.
WAT BEPAAL OPBRENGS?
Die koringopbrengs wat behaal word, word bepaal deur die getal plante per vierkante meter, die getal are per plant, die getal korrels per aar en die gewig van elke korrel. “Die getal plante per vierkante meter kan hoofsaaklik bestuur word deur plantdigtheid en saadbedvoorbereiding; 175-200 plante/m2 word aanvaar as ’n goeie plantestand in die Wes-Kaap.”
Koekemoer sê die getal are per plant word bepaal deur die halms per plant, die plantdatum, vog-, temperatuur- en bemestingstoestande. “Droogte tydens die vroeë vegetatiewe fase kan die getal halms met die helfte verminder, terwyl koel weer tydens die vegetatiewe fase help met halmontwikkeling en -groei. Stikstofbemesting gee energie en help met selverdeling en uiteindelik die aantal halms per plant.”
Die getal korrels per aar is belangrik omdat daar aan die begin van aarvorming tot 75 blompakkies kan wees wat korrels kan word, sê Koekemoer. “Namate die aar ontwikkel, veroorsaak ongunstige omgewingsfaktore dat van die blompakkies afgespeen word. Weens droogte, hitte en koue is daar nooit 100% bestuiwing nie.”
Koekemoer sê 40 korrels per aar is uitstekend, dog 30 tot 35 korrels is meer algemeen. Die gewig van koringkorrels hang af van die translokasie (beweging vanaf die blare na ander dele van die plant) van assimilate (versamelnaam vir organiese koolstof en stikstof) van die blare na die are.
In dié opsig is dit baie belangrik om die vlagblaar te beskerm, aangesien dit tot 75% van die koolhidrate aan die aar kan verskaf. Die kaf en baard verskaf tot 20% van die koolhidrate aan die aar.
Koekemoer sê die translokasie van stysel is baie gevoelig vir hoë temperature. “Net vier dae bo 32 °C, gepaard met vogtekorte, kan opbrengsvlakke met 0,25 t/ha verlaag tydens korrelvul omdat dit die translokasie van stysel tot ’n groot mate nadelig beïnvloed. Stysel dra die meeste by tot graanvulling, en enige nadelige invloed op die vloei van stysel na die are, het ’n groot uitwerking op die opbrengs wat uiteindelik behaal word.”
HOE BEHAAL BOERE 16 TON?
Daar was in 2015 groot opgewondenheid in die graanwêreld toe mnr. Rod Smith, ’n boer van Northumberland in Brittanje, ’n rekord van 16,52 t/ha behaal het. In 2017 is dié rekord verbeter deur die 16,791 t/ha wat mnr. Eric Watson van Canterbury in Nieu-Seeland behaal het. Hoekom kan boere in Engeland en Nieu-Seeland opbrengste van 16 t/ha behaal en Wes-Kaapse boere nie?
Koekemoer sê die klimaat in die lande maak die verskil tydens alle groeifases (sien tabel 3). “Hul vegetatiewe fase is ’n maand langer as die Wes-Kaap s’n. Hulle ervaar min hitte- of droogtestres tydens blom in die voortplantingsfase. Hulle het ook min hittestres tydens die graanvulperiode, wat amper ’n maand langer duur as hier.”
Hy sê Europese koring het gemiddeld 90 dae langer as koring in die Wes-Kaap om te ontwikkel. Daarbenewens sorg die gematigde klimaat tydens alle ontwikkelingsfases dat meer are per plant en meer korrels per aar en per vierkante meter ontwikkel. “Dit help dat daar ’n goeie vloei van assimilate na die are is en die korrels groter en swaarder is vanweë die lang korrelvultyd.”
SA KULTIVARS HET POTENSIAAL
Met die regte omstandighede, soos hoë reënval, lang dae en vrugbare grond, behaal Suid-Afrikaanse koringkultivars maklik 7 t/ha.
Koekemoer sê proefnemings wat saadmaatskappye in Brittanje en Frankryk met plaaslik geteelde kultivars gedoen het, toon dat Sensako- kultivars soos SST88, SST875, SST027 en SST087 bykans dieselfde opbrengste behaal as Tybalt en Willow, die broodkoringkultivars wat die algemeenste in Brittanje aangeplant word (sien grafiek).
Koekemoer sê dié opbrengste is moontlik omdat koring in Europa gemiddeld 90 dae meer tyd as in Suid-Afrika het om die oeskomponent te ontwikkel. Daarbenewens geld ’n gunstige klimaat gewoonlik tydens alle ontwikkelingsfases sodat meer are per plant, meer korrels per aar en meer korrels per vierkante meter gevorm word. Daar is ook ’n goeie vloei van assimilate na die are, en groter en swaarder korrels word vanweë die lang korrelvultyd behaal (tabel 4).
Sensako het ook saad van die kultivar waarmee onlangs rekordopbrengste van meer as 16 t/ha in Nieu-Seeland en Enge- land behaal is, in die Wes-Kaap getoets, maar die koring het nooit verder as die vegetatiewe fase gevorder nie. Koekemoer sê dit sal hier net goed wees vir weiding.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.