Voordat die jongste reën nou weer wyd begin uitsak het, was daar sowat twee weke se warmer sonskynsdae in die somerreëngebied en daar is fluks met die aanplanting van mielies en sojabone gevorder.
Dr Werner Rossouw, direkteur van Silostrat, sê in die sentrale en westelike dele van Suid-Afrika is die sojaboonaanplantings voltooi. Daar is ver gevorder met mielie-aanplantings en sonneblomaanplantings vorder ook goed. “Die een ding wat ons nou jaar ná jaar ál meer besef, is die vermoë van produsente om ’n groot oppervlak in ’n baie kort tydperk te kan beplant. Die meeste boere is nou in staat om binne twee tot drie weke hul aanplantings te voltooi mits die weer saamspeel en ons het ’n twee goeie weke ervaar.”
Hy sê sy verwagting is dat die mielie-aanplantings binnekort voltooi sal wees as nat toestande dit nie in die wiele ry nie. “Dan moet die sonneblom-aanplantings afgehandel word, maar daar is nog genoeg tyd daarvoor.”