
Boere is optimisties oor die komende wintergraanseisoen, maar ervaar groot onsekerheid oor die koste en beskikbaarheid van kanolasaad, brandstof en kunsmis.
Mnr. Francois Badenhorst van Jubileeskraal by Swellendam sê hulle gaan rondom Paasnaweek begin om kanola en gars te plant.
Hulle het verlede jaar reeds al hul plaagdoders en kunsmis gekoop. Hy sê dis maar ’n risiko om tot September se insette in voorraad te hê, veral as hulle dalk nie alle kanolasaad wat hulle bestel het, kan kry nie.
“Deesdae moet ons Junie al ’n aanduiding gee van watter kanolasaad ons volgende jaar wil plant, maar dan hoor ons twee weke voor die tyd daar was ’n probleem met die verskeping van die saad.”
Al is die kunsmis 60% tot 70% duurder vanjaar, het hy alle kunsmis wat hy vir die wintergraan van planttyd tot bobemesting sal benodig, in sy skuur.
“Ons boer altyd vir ’n goeie seisoen en ’n goeie oes. Deesdae kan ons nie meer halfpad ingaan met ons boerdery-aktiwiteite nie. Dis alles of niks. Ons het ’n langtermynsiening oor ons boerdery.”
Hy meen daar word baie paniek geskep. “As ‘n mens hoor daar is net twee maande se diesel in Suid-Afrika, dan sorg jy maar dat jy dit het. Ons moet plant en oes.”
Hy hou die pryse en beskikbaarheid van landbou-insette met ’n arendsoog dop, veral omdat hy in Oktober die volgende mielie-oes moet plant. Hy hoop die situasie het teen daardie tyd verbeter, want “hoe ver kan ’n mens vooruit koop”?
Badenhorst sê hulle het in Maart bietjie reën gehad en die grondtoestande is verbasend goed. “Dit is koeler en daar is ’n voggie in die grond. As ons plant, sal die saad opkom.”
Swartland baie droog
Mnr. Koos Blanckenberg van Klipheuwel sê hulle begin net ná Paasnaweek om kanola te plant, al is die grond nou nog droog “soos ’n woestyn”.
Hulle het nie in Januarie, Februarie of Maart noemenswaardige reën gehad nie. “Ons moet maar in die stof plant as dit nie voor daardie tyd reën nie.”
Blanckenberg sê die nuus oor kanolasaad is al beter met skepe wat in glo in die Durbanhawe, of amper daar is, maar dis nog nie op die plase nie. Hulle kon ook nie genoeg van hul voorkeursaad kry nie.
Hulle is onrustig oor die beskikbaarheid van kunsmis. “Daar is vir ons gesê daar sal kunsmis wees, maar dis nog nie daar waar jy daaraan kan vat nie.”
Hy sê dis ’n risiko wat hulle nooit nodig gehad het om te hanteer nie. “Met die oorlog is die wêreld meer deurmekaar as met covid-19. Dit het met die gewone voorsieningskettings ingemeng.”
Daar sal egter genoeg kunsmis wees om te plant omdat daardie kunsmis al verskeep is toe die oorlog uitgebreek het. “Die risiko is by bobemesting, maar daar is nog tyd tot ons Junie bobemesting by kanola toedien.”
Sekere kanolasaad op mespunt
Kanolasaad is oral skaars, sê mnr. Corné Louw, hoof van toegepaste ekonomie en lededienste by Graan SA. “En omdat ons heeltemal van invoer vir kanolasaad afhanklik is, stel dit ons nog meer bloot.”
Hy sê die situasie word vererger deurdat van die skepe waarop die saad is, vertraag is. “Die grootste gedeelte hiervan is darem nou al naby die Durbanhawe, maar daar is saad wat eers teen einde April verwag word.
“Dit plaas druk op die goeie vooruitgang wat ons die afgelope tyd in die kanolamark gesien het.”
Graan SA het plaaslike saadmaatskappye wat kanolasaad verkoop, versoek om die plaaslike vermeerdering van kanolasaad te heroorweeg, om die risiko’s van beskikbaarheid in die toekoms te verminder.
Mnr. Neill van der Merwe, Agricol se bemarkingsbestuurder in die Swartland, sê die maatskappy se konvensionele kultivars is hier en die meeste boere het dit al gekry.
Hy het op 30 Maart gesê hul triasienbestande kultivars behoort aan die einde van die week of vroeg die volgende week beskikbaar te wees. “Vandat ons die saad per vliegtuig inbring, is daar nie meer kommer oor of dit betyds gaan wees of nie.”
Hy sê beskikbaarheid kan ’n probleem wees omdat die vraag na kanolasaad vanjaar baie groter is as die vorige vyf jaar, en daar nie ’n manier is om tekorte binne ’n jaar aan te vul nie.
Aan sekere kanolakultivars is daar nie ’n tekort nie, maar van die gewildste kultivars is daar nie genoeg saad nie, en dis maar ’n probleem wat alle saadmaatskappye ervaar.