
Oekraïne en Rusland produseer saam sowat 60% van al die sonneblomsaad ter wêreld, sê mnr. James Hellawell, graanverhandelaar van Silostrat.
“Op 23 Februarie, die dag voordat Rusland Oekraïne binnegeval het, was die Mei-sonneblomprys R9 764/t. Op 24 Februarie het die pryse op al die markte het die hoogte ingeskiet,” sê Hellawell.
Die volgende paar dae het die prys vir sonneblom aanhou klim tot ’n allemintige R12 497/t op 9 Maart – R2 733/t hoër as die prys net voor die oorlog begin het.
Europese mark
Buiten die oorlog wat tot ’n prysstyging gelei het, sê Hellawell dis ook belangrik om te kyk na die Europese sonneblomolieprys.
“Sonneblomolievoorrade was reeds laag toe die oorlog begin het. Oekraïne voorsien in 38% tot 42% van die Europese sonneblombehoefte. Verder moet Oekraïne binne die volgende vier weke begin om sonneblom te plant en dis nie tans duidelik of dit moontlik gaan wees nie.
“Dit alles het daartoe gelei dat die Europese sonneblomprys op 8 Maart opgeskiet het tot $3 000/t. Dit het in net drie weke verdubbel van $1 500/t,” sê Hellawell.
Die mark het egter van 9 Maart tot 16 Maart weer teruggesak. “Tans verhandel sonneblom teen R10 572/t. Dis R1 925/t laer as die prys op 9 Maart.”
Moontlike vredesooreenkoms
Die volgende vier tot agt weke is baie belangrik, want dis sonneblomplanttyd in Oekraïne.
“As daar binne die volgende paar weke ’n vredesooreenkoms tussen Rusland en Oekraïne gesluit word, sal Oekraïne kan voortgaan met aanplantings. Maar daar moet in ag geneem word dat groot dele skade gely het.
“As ’n vredesooreenkoms nie gesluit word nie en Oekraïne kan nie voortgaan met aanplantings nie, gaan die prys wisselvallig bly,” sê Hellawell.
Die strooptyd vir sonneblom in Oekraïne is Oktober en November.