
Groot saadmaatskappye glo met die regte kultivars en boerderypraktyke kan die opbrengs van sojabone in Suid-Afrika binne die volgende vyf jaar met 50% toeneem, sê mnr. Corné Louw, hoof van toegepaste ekonomie en lededienste van Graan SA.
Hy het op ’n werksessie vir sojaboonboere op Graan SA se jaarlikse kongres verslag gedoen oor ’n studie van die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) oor die voordele van die tegnologieheffing wat boere betaal. Uit die studie, wat ook ontwikkelinge in ander lande ingesluit het, blyk dit dat uitstekende plantmateriaal ontwikkel word met party maatskappye wat van vier tot ses nuwe kultivars per jaar kan beskikbaar stel.
Hy het gesê danksy die tegnologieheffing is daar van 2016 tot 2019 reeds 52 nuwe kultivars in Suid-Afrika beskikbaar gestel met nog meer wat op pad is. “Die meeste saadmaatskappye sal in die volgende paar jaar nuwe kultivars met Bayer se Intacta-gene vir insekweerstand en bestandheid teen onkruiddoder beskikbaar hê.
“Corteva het ook ’n aansoek ingevolge GM-wetgewing ingedien om sy Contesta E3-kultivars, wat ook bestand is teen onkruiddoders en weerstand teen insekte bied, plaaslik goedgekeur te kry. Terselfdertyd beoog Bioceres om sy HB4- droogteverdraagsame geen in Suid-Afrika bekend te stel wat byvoorbeeld in die geval van ’n midsomerdroogte tot 25% hoër opbrengste kan bied.”
Louw het gesê die gevolgtrekking is as dit nie vir die heffing was nie, sou die maatskappye nie hul tegnologie na Suid-Afrika kon bring nie en nuwe maatskappye sou hulle nie hier kom vestig het nie. Die vierde jaar van die tegnologieheffing het op 1 Maart begin, teen R55/ton vir die seisoen. Die vergadering het besluit daar moet aanstaande jaar weer net vir verdere termyn van twee jaar aansoek gedoen word.
Mnr. Jozeph du Plessis, boer van Schweizer-Reneke en direksielid van Graan SA, het gesê dit moet ’n wensituasie vir boere sowel as saadmaatskappye wees om te kan werk. “Ons het klaar voordeel getrek met beter teelmateriaal. Vanweë groter mededinging tussen saadmaatskappye het saadpryse in sommige gevalle van R800 tot R550 per sakkie gedaal.”
Oor die moontlikheid van sojaboonuitvoer het Louw gesê die bedryf is gereed en ’n protokol bestaan om na China uit te voer. Dit moet net deur die onderskeie ministers onderteken word en dan hang dit verder van die beskikbaarheid van vervoer- en verskepingslogistiek af.
Mnr. Ralf Küsel, voorsitter van die werkgroep, het gesê elke 2 ton soja wat uitgevoer word, is ’n hektaar se produk, terwyl dit in die geval van mielies 5 ton is om ’n hektaar uit te voer.
Liggingsdifferensiaal
Die liggingsdifferensiaal vir sojabone het by die werkgroep in die kollig gekom en mnr. Chris Sturgess, ’n konsultant wat deur die JSE aangestel is om die kwessie te ondersoek, het verslag gedoen oor die vordering. ’n Tegniese komitee van 13 lede ondersoek alternatiewe en sal van Maart tot Mei ’n reeks vergaderings daaroor hou. Hy het beklemtoon dat daar nie oorweeg word om dit af te skaf nie, maar net om die metodologie te verbeter.
“Daar sal in diepte gekyk word na die moontlikheid van meervoudige verwysingspunte na gelang van die vloei van die sojabone tussen opbergings- en verbruikerspunt en voorstelle daaroor sal aan die mark voorgelê word. Sojabone kan ’n goeie produk wees om ’n nuwe konsep mee te toets. Ek is optimisties dat daar teen einde April al sleutelaspekte sal wees wat oorweeg kan word.”
Op ’n vraag of die JSE werklik die aptyt vir verandering het, het hy gesê die kwessie sal met erns gedebatteer word in die beste belang van almal en dat dit met ’n oop gemoed benader word.