Vyf lande in Suider-Afrika het met
'n gesamentlike veldtog begin om uitgediende plaagdoders op te spoor, waarna dit
ingesamel sal word met die uiteindelike doel om daarvan ontslae te raak. Hierdie
keer staan die omgewingbewuste Deense regering pa vir 'n deel van die koste.
Uitgediende plaagdoders is 'n groot probleem in Afrika. Lande op dievasteland het dekades lank groot hoeveelhede plaagdoders vir onder meer die landbou gekoop, soos vir die bestryding van sprinkane. Die bestryding van malariamuskiete, wat jaarliks miljoene lewens eis, verg eweneens groot hoeveelhede plaagdoder.
As sulke plaagdoders vir latere gebruik opgeberg word, kan dit uitgedien raak weens die ontwikkeling van beter en nuwe produkte, terwyl dit ook weens ouderdom verander. Boere, maatskappye en regeringsinstansies weet dan dikwels nie wat om daarmee te doen nie en dit word iewers in 'n skuur gebêre.
Die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie beraam daar is honderdduisende ton uitgediende plaagdoders in die wêreld. Daarvan is meer as 100 000 ton in ontwikkelende lande en meer as 20 000 ton in Afrika. In die vyf lande in Suider-Afrika wat aan die opname deelneem, is vermoedelik 2 000 ton. Die deelnemende lande is Botswana, Lesotho, Namibië, Suid-Afrika en Swaziland.
Onder die uitgediende produkte is middels wat nie meer geregistreer is nie, soos aldrin, chlordaan, dieldrin, DDT, andrin, heptachloor, heksachloorbenseen, mireks, toksafeen, propaklorobensulaat, dioksiene en furane.
Mnr. Mikael Holdt, hoof tegniese adviseur vir die projek namens die Deense regering, wat sowat R6 miljoen tot die die opname- en bewusmakingfase bydra, sê die oorkoepelende doelwit is om ongewenste chemikalieë in Suider-Afrika op 'n omgewinggesonde en volhoubare wyse te bestuur.
Die projek word deur DANCED (Danish Co-operation for Environment and Development) bestuur, wat binne die Deense departement van die omgewing en energie gestig is om omgewingshulp aan ontwikkelende lande in Suider-Afrika en Suidoos-Asië te verleen.
Die Plantbeskermings- en Dieregesondheidsvereniging van Suid-Afrika bedryf die projek namens Suid-Afrika se Departement van Landbou, met die samewerking van Botswana, Lesotho, Namibië en Swaziland se departemente van landbou.
Die projek bestaan uit twee fases: 'n Opnamefase en 'n insamelings- en bestuursfase.
Gedurende die opnamefase, wat sowat agt maande sal duur, word 'n register van uitgediende plaagdoders in elk van die vyf lande saamgestel en mense opgelei om op hul beurt voorligtingsbeamptes en ander mense oor plaagdoders touwys te maak.
Deel van die opname is 'n vraelys wat aan boere en besighede gestuur gaan word (onder meer as 'n invoegsel in Landbouweekblad) om te bepaal hoeveel uitgediende plaagdoders daar is. Dit is om 'n plan te ontwikkel vir die uiteindelike opruiming en vernietiging daarvan.
Die fase vir die insameling, opruiming en bestuur van uitgediende plaagdoders sal waarskynlik in 2003 begin en behoort ongeveer anderhalf jaar te duur. Gedurende hierdie fase sal die uitgediende chemikalieë ingesamel en, as dit nodig is, herverpak word. Mnr. Holdt sê daar is 'n moontlikheid dat die vervaardigers dit kan terugneem of herformuleer.
Wêreldbank
Net 'n deel van hierdie fase sal deur die Deense regering gefinansier word. Nog borge moet dus gevind word. Samesprekings is ook al met die Wêreldbank daaroor gevoer.
Die insameling van uitgediende plaagdoders sal op 'n vrywillige basis geskied. Dit is ook gratis. Daarom is regulasies en die afdwing van sulke maatreëls nie nodig om seker te maak uitgediende plaagdoders word ingelewer nie.
Mnr. Jan Kleynhans van die Plantbeskermings- en Dieregesondheidsvereniging sê boere hoef nie bang te wees om te sê as hulle sulke gif het nie, want dit is nie 'n oortreding nie. Dit is wel teen die wet om dit te gebruik of te verkoop.
Om te verseker dat die projek volhoubaar is, is dit noodsaaklik om mense op te lei om plaagdoders verantwoordelik te gebruik. Dit behels ook geïntegreerde plaagbestryding, wat chemiese bestryding met onder meer biologiese bestryding en bepaalde verbouingsmetodes kombineer, sodat minder chemiese middels nodig is om siektes, insekte, onkruid en ander plae te beheer.
Dit is dus 'n kombinasie van metodes wat só ingespan word dat dit die minste skade aan die omgewing aanrig, terwyl dit vir die boer ook ekonomies moet wees.
Mnr. Holdt sê dit is baie duur en moeilik om van uitgediende plaagdoders ontslae te raak. Weens die giftigheid daarvan moet dit met groot sorg gehanteer word.
Daar is ook ander knelpunte: Sommige van die produkte is baie oud, wat identifisering en opruiming moeilik maak. Party houers het al verweer en gif het begin uitlek en die grond besoedel.
Die ideaal is om voorkomend op te tree, want dit sal die ophoping van plaagdoders voorkom. Danksy geïntegreerde plaagbestryding en beter kennis van die faktore wat vir die uitbreek van sprinkaanplae verantwoordelik is, is daar reeds 'n afname in die gebruik van chemikalieë. Dit verg die verhoging van die bewustheid en opleiding van alle betrokkenes.
Aandag aan die probleem van uitgediende plaagdoders sal ook bydra tot 'n globale benadering tot chemikalieë wat die meeste besoedeling veroorsaak. As daar samewerking op streekvlak is om van uitgediende plaagdoders ontslae te raak, sal die lande wat betrokke is na verwagting hul standaarde en oplossings vir sulke probleme in ooreenstemming met mekaar bring.
Opleiding is nodig om voorligtingsbeamptes in al vyf lande van die probleem van uitgediende plaagdoders bewus te maak, sodat hulle veilige en geïntegreerde plaagbestryding onder boere kan bevorder. Werkers op kommersiële plase moet verder opgelei word, terwyl baie opkomende boere nog geensins in die verantwoordelike gebruik van plaagdoders opgelei is nie.
In Suid-Afrika het die Plantbeskermings- en Dieregesondheidsvereniging 'n opleidingsprogram begin om mense te leer om plaagdoders verantwoordelik te gebruik. Dit is hoofsaaklik op opkomende en kleinboere en plaaswerkers gemik. Hulle het al sowat 45 meester-opleidingsbeamptes, 600 front-opleidingsbeamptes en 65 000 boere en plaaswerkers opgelei.
Hierdie program sal versnel moet word, aangesien daar 'n geskatte 600 000 opkomende en kleinboere in Suid-Afrika is. Soortgelyke opleiding vir kleinskaalse boere is in die ander vier lande nodig.
17 Mei 2002