Die voorkoms van een van die aggressiefste onkruide wat nóg in Suid-Afrika voorgekom het, Palmer-misbredie (Amaranthus palmeri), is op ’n mielieplaas in die distrik Potchefstoom in Noordwes bevestig.
Luidens ’n verklaring deur CropLife SA is een van die bedreigings van dié onkruid dat, vergeleke met sy inheemse eweknieë, dit bestand is teen minstens ses onkruiddodergroepe. Dit kan byvoorbeeld nie met glifosaat bekamp word nie.
Die voorkoms van die onkruid is die eerste keer in 2018 op ’n plaas in die distrik Douglas in die Noord-Kaap bevestig. CropLife SA moedig alle saaiboere en gewasraadgewers aan om alles moontlik te doen om dié onkruid en alle ander Amaranthus-spesies wat op plase voorkom, uit te roei.