Die grond van die Noordwes-Vrystaat, waar sowat 19% van Suid-Afrika se mie- lies jaarliks geproduseer word, bevat besonder min klei. Oor groot gedeeltes vorm daar dikwels ’n vlak watertafel indien die reënval voldoende is.
Dié water kan dan deur gewasse benut word, en dit lei gewoonlik tot relatief hoë doeltreffende gebruik van reënval. Hierdie onderskepping en opberging van die water is die sterk punt van die grond, maar kwesbaarheid vir erosie en die gemak waarmee dit verdig, is van die grond se swakker eienskappe.
Daarom word diep skeurploegbewerkings gebruik om gewasse se wortels in staat te stel om die watertafel te benut en verdigting op te hef. Dit is ’n praktyk wat al sedert die 1970’s toegepas word.