Gewoonlik is dit ’n droogte wat saaiboere aan die suidpunt van Afrika kortwiek, maar die afgelope somer was baie reën en sopnat grond die remskoen – veral in sandgrond. Wanneer die sluise van die hemele oopmaak, kan ’n boer niks aan die onmiddellike situasie doen nie, maar wat kan vooraf gedoen word om die skade te verminder?
Landbouweekblad het met kenners gesels oor hul waarnemings en bestuurslesse wat te leer is uit die afgelope La Niña-seisoen wat weens swaar reën deur moeilike plant- en ná-planttoestande gekenmerk is.
Die kenners is prof. Allan Bennie, voormalige hoogleraar in grondkunde aan die Universiteit van die Vrystaat wat nou by Bloemfontein boer, dr. Erik Adriaanse, spesialis in landboukunde, plantvoeding en grondvrugbaarheid van Vuma Crop op Potchefstroom, mnr. Johan Hattingh, ’n onafhanklike grondkundige van Potchefstroom, en mnr. Eugene Terblanche, ’n akkerboukundige van Bothaville.