Mnr. Robert Davel, uitvoerende bestuurder van Mpumalanga Landbou, sê dit het taamlik wyd in die provinsie gereën en hy het nog nie van iemand gehoor wat geen reën gehad het nie. “Daar is enkele plekke waar boere al naby aan klaar geplant is.”
Mnr. Ryk Pretorius, Graan SA-verteenwoordiger wat naby Ermelo boer, sê daar is plekke in die provinsie waar dit te nat is om nou te plant, maar die omstandighede verskil baie. “Ek was vanoggend by Secunda waar een boer se lande onder water is en 10 km verder kla ander boere dat dit nog te droog is.”
Hy skat dat rofweg van 60% tot 70% van die mielies in die provinsie al geplant is en van 40% tot 50% van die sojabone.