Die derde La Niña-stelsel wat tans die somerreënstelsels domineer, is die derde agtereenvolgende La Niña-stelsel wat vir die somer in die Suidelike Halfrond voorkom. Die reën wat die stelsel veroorsaak, volg op die goeie neerslae van die vorige twee stelsels wat grondprofiele oor groot dele van Suid-Afrika reeds goed aangevul het.
Die swaar neerslae van die afgelope vier tot ses weke het nou tot gevolg dat baie landerye onder water staan, onbegaanbaar is of dat water afloop omdat die grond in dele waterversadig is. “Dis nog redelike vroeg in die seisoen. As optimale toestande vir plant oor die volgende vier tot vyf weke gaan voorkom, voorsien ons nie te groot probleme nie,” sê dr. Werner Rossouw, direkteur en handelaar van Silostrat. “Indien swaar neerslae wel weer voorkom en boere nie in hul landerye kan kom nie, kan probleme begin voorkom.”
Op kort tot mediumtermyn word swaarder neerslae weer van die laaste deel van November en in die eerste week van Desember voorspel, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.