Met die opname van die nasionale oesskattingskomitee wat tans aan die gang is, is dit nog nie duidelik presies wat saaiboere se plantvoornemens vir die somer is nie.
Mnr. Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, sê die neiging onder boere met wie hy in Noordwes praat waar hy boer, is om vanjaar meer sojabone te plant. Boere toon minder belangstelling in sonneblom, waarskynlik weens die risiko van Sclerotinia. Boere sal natuurlik ook weer mielies plant, hoewel die winsvooruitsigte vir mielies nie so goed soos sojabone en sonneblom lyk nie.
Die bemestingskoste van mielies is eenvoudig te hoog, sê Mathews. Hy voorsien dat mens baie innoverende planne sal sien van boere wat soveel moontlik gaan plant met die beskikbare geld.