Groen katoen floreer met min voedingstowwe en is ’n yster as wisselbougewas, meen mnr. Richard Godfree-Thom, een van ’n hand vol katoenboere in die Vaalharts-skema buite Hartswater in die Noord-Kaap. Besparings van tot R3 000/ha is moontlik as jy oordeelkundig bemes, sê hy.
Dié jong derdegeslagboer het ná skool vir ’n stroopkontrakteur in Texas, Amerika, gewerk. Tuis is hy aan die diep kant ingegooi toe hy ná sy eerste jaar sy landboustudie moes laat vaar nadat melanoom- en longkanker by sy pa, Stuart, gediagnoseer is. Sy pa is kort daarna oorlede. Boer is in sy bloed.
“Ek kan nie onthou dat ek ooit huiswerk gedoen het nie. Direk ná skool het ek na ons landerye gehardloop om op ’n trekker te klim.” Só het hy baie lesse by sy oorlede pa en uit eie ondervinding geleer.