
Mnr. Kobus Dippenaar van die Swartberg, in die distrik Moorreesburg, sê die koring is sowat drie weke later as in ’n normale jaar.
“September gaan vanjaar vir ons nog belangriker wees as ander jare. Omdat die seisoen so laat is, gaan ’n koel en natterige September baie belangrik wees. As ons in September hittegolwe en oostewind kry, gaan dinge nie werk nie. Die seisoen is klaar kort, dit kan nie aan die agterkant ook ingekort word nie.”
Hy sê die koringstand is baie ongelyk. “Die stukke wat opgekom het, is vier- of vyfblaar en wil amper pyp, en die ander kom nog nie eens uit nie.”
Dippenaar sê hul weiding is agter. “Ons voer vir dood. Die skape lam en die beeste kalf. Ons kan hulle nie nou afskeep nie. Ons moet nou maar deurdruk anders kry ons skade vorentoe. Ons voer maar met die doel om dit later terug te kry.”
Rietpoel-omgewing lyk goed
In teenstelling met Moorreesburg lyk dit goed by Rietpoel en Riviersonderend waar mnr. Jurie Groenewald boer. “Die graan het mooi opgekom en die grond is baie nat nadat ons ’n maand gelede eers 50 mm reën en toe ’n opvolg van 20 mm gekry het. Die vog in die grond gaan ons ’n tydjie hou. As ons elke twee weke bietjie reën kan kry, verwag ons ’n goeie seisoen.”
Nie ver daarvandaan, by mnr. Albert Bester, bestuurder by Schildskloof Boerdery, lyk alle gesaaides baie goed. Hulle het ook sowat ’n maand gelede 64 mm reën en toe weer 20 mm gekry. “Ons wêreld is taamlik nat. Ek het gister amper vasgesit in ’n land.”
Soos ’n mens verder oos in die Overberg beweeg, word dit droër.
Mnr. Kobus Horne van die plaas Pienaarsrivier by Riversdal sê hulle het weer reën nodig. “Die 30 mm wat ons tien dae gelede gekry het, het toestande baie verander, maar nou raak dit weer droog.”
Daar word nie gou reën vir hulle voorspel nie. Boonop lê daar ’n hoogdrukstelsel aan die oostekant van die land en kry die Karoo reën.
Mnr. Adriaan Steyn van Wankie Boerdery by Heidelberg sê sy graan toon in die stadium bogemiddelde potensiaal. “Daar was maar baie bergwinddae in Mei en Junie wat die bogrond uitgedroog het, maar ons het met die laaste reën 50 mm gekry wat ons ’n hele ent sal dra.”