
In die Swartland en dele van die Overberg is die reën baie laat en deur ’n paar droë en warm maande voorafgegaan, maar boere sê dit is nog betyds.
“Die reën is soos manna uit die hemel,” sê mnr. Abri de Wet van GAF Boerdery by Caledon, wat 50 mm tot 60 mm gekry het. “Dis net betyds. Ons het begin swaar trek met verlede week se hitte, maar ná die reën is ons seisoen nog op koers.”
Soos ’n mens verder oos van Caledon gaan, het dit minder gereën, sê De Wet.
‘Dit was regtig droog’
Mnr. Daniel Gilliomee van Vlakkloof, Bredasdorp, wat 34 mm reën gekry het, sê dit was regtig droog. “As die reën nie gekom het nie, sou ons koring in Junie begin klaarmaak het.
“Die reën was net betyds. Ons sê dit elke jaar, maar die keer was dit regtig net betyds. Dit sal ’n groot verskil maak.”
Giliomee sê dit was die eerste week in Junie so warm dat sy buurman se kanola begin blom het.
Mnr. Maartin Gildenhuys van Heidelberg sê die 12 mm reën wat hulle gekry het, was “net, net betyds”.
Die Swartland het meestal goed reën gekry. Volgens mnr. André Kirsten van Darling het hulle 50 mm tot 70 mm reën gekry, Moorreesburg 30 mm tot 60 mm, Klipheuwel 50 mm tot 60 mm, en Hopefield en Riebeek-Kasteel 50 mm tot 60 mm.
Mnr. Anton Mouton van Eendekuil sê hulle het 28 mm tot 42 mm gekry. Ten spyte van min reën voor Junie het hul graan in die sandgrond goed opgekom, maar stadiger in die swaarder grond. Mouton sê volgens sy pa het dit in 1987 ook so laat ordentlik gereën dat hulle 11 Junie vir die eerste keer in nat grond geploeg het. “As dié reën net wil aanhou tot September, dan is laat reën nie nou ’n probleem nie.”
Die Wes-Kaap het die afgelope paar jaar ten minste die helfte van Suid-Afrika se koring geproduseer. Hoewel ’n rekord van 2,245 miljoen ton koring verlede jaar geoes is, skat die Suid-Afrikaanse graan- en oliesade vraag- en aanbodskattingskomitee dat die land 1,475 miljoen ton koring van 1 Oktober 2021 tot 30 September 2022 sal moet invoer. Die vraag na koring vir die ooreenstemmende tyd word op 3,577 miljoen ton geraam. Meer as 90% daarvan is vir menslike gebruik.