
Saaiboere op die watertafelgronde van die Wes-Vrystaat is vanjaar swaar getref deur vloedskade weens oorvloedige reën, maar jare lange navorsing gee hulle die geleentheid om op 4 Maart deeglik te besin oor wat hulle volgende te doen staan.
Die sandgrondontwikkelingskomitee (SOK) gaan tydens die SOK-inligtingsdag drie jaar se proefresultate in verskillende produksiepraktyke deel.
Die inligtingsdag word gehou op mnr. Danie Minnaar, voorsitter van die SOK, se plaas, Springboklaagte. “As jy nat toestande moet trotseer, soos baie boere vanjaar in veral die westelike produksiestreek van die land ondervind het, moet jy uit die boks begin dink om te oorleef,” sê Minnaar.
Die SOK is amper 15 jaar oud en het die afgelope dekade, met finansiering van die Mielietrust, twee onafhanklike navorsers, drs. Andre Nel en Danie Beukes, aangestel om die komitee se proewe onafhanklik te evalueer.
“Dit is sekerlik een van die unieke kenmerke van die SOK – dat ons as groep boere deur middel van proewe onafhanklike inligting oor watertafelgrondproduksie lewer.
“Hierdie onafhanklike werk en gevolglike resultate vul ’n leemte in die landbou in hierdie stadium,” sê Minnaar.
Watertafelgrond
Die SOK se navorsingswerk word op die watertafelgronde van die Wes-Vrystaat en Noordwes uitgevoer, waar sowat die helfte van Suid-Afrika se witmielies verbou word.
“Ons gaan terugvoer gee oor die afgelope drie jaar se proewe, want ons kon weens covid-19-inperkingsmaatreëls nie ons jaarlikse boeredag hou nie. Die inligtingsdag is dus ’n terugvoergeleentheid van al ons proewe,” sê Minnaar.
“Vanjaar het ons die unieke situasie gehad dat daar te veel water en gevolglik versuipings in ons gebied plaasgevind het. Die terugvoer gaan dus hoofsaaklik handel oor wat ons as boere te doen staan in dié omstandighede.
“Onthou, watertafelgronde is soos ’n bad waarvan die prop in is. Met die hoeveelheid reën van dié seisoen gaan ons grondwaterprofiel teen volgende jaar klaar vol wees en ’n gemiddelde reënval gaan weer versuipskade tot gevolg hê. Ons sal dus ’n paar strategieë moet oorweeg.”
Minnaar sê tydens die inligtingsdag gaan terugvoer gegee word aangaande die bestaande proewe, waaronder bemesting, wat verskillende bemestingsvlakke, asook bemestingspraktyke, standproefvergelykings en wisselbou met mielies en sojabone insluit.
Daarna sal besoekers een of twee profielgate besoek om onder meer wortelontwikkeling en vogvlakke te besigtig.
Minnaar, mnr. Thabo van Zyl en dr. Andre Nel sal ook boerese vrae rakende die proewe beantwoord.
Klik hier om te registreer.