
Boere het meestal klaar geplant, meen mnre. Henk de Beer, hoofbestuurder van bedrywe by Sentraal-Suid Koöperasie, en Johan Lusse, hoofbestuurder van graan en landboudienste by Overberg Agri.
“Daar was begin Junie dalk nog boere by Riversdal en Albertinia wat moes klaarmaak,” sê De Beer. “Toestande wissel, maar die 10 mm tot 15 mm reën wat ons die laaste naweek in Mei oor die hele SSK-gebied gekry het, was tydig en het baie gehelp. Daar is egter nie juis vogreserwes nie en die graan wat opgekom het, gaan begin swaarky as dit nie binne die volgende paar dae weer reën nie, veral by Albertinia.”
De Beer sê hulle is bekommered dat daar nie gou weer reën voorspel word nie. “Ons moet maar hoop dat dit minstens baie koud bly en die bergwind nie waai nie.”
Graan kom ‘verbasend mooi’ op
Die wintergraanseisoen het droog en warm begin in die Overberg en Swartland, sê Lusse. “Die reënval is redelik onder die langtermyngemiddelde. Boere het meestal in droë of klam, maar nie nat, grond geplant. Tog kom die graan verbasend mooi op.
“Ons eerste goeie reën van 15 mm tot 30 mm was einde Mei en baie van die graan is nog aan die opkom. Ons gaan vir seker bietjie water benodig ná die eerste week in Junie se warm weer. Ons hoop maar die voorspelling vir 13 Junie word waar.”