Dit is tot die landbou se voordeel dat die jong Daniël Opperman nie destyds vir opleiding as vlieënier in die Suid-Afrikaanse Lugmag gekeur is nie, want die pad wat hy daarna geloop het, het koers gekry landbou toe en tot sy bekroning as TLU SA se Jongboer van die Jaar vir 2022 gelei het.
Boonop het hy sy vliegdroom bewaarheid en op eie koste as kommersiële helikoptervlieënier gekwalifiseer. Nou vlieg hy ook hoog as groenteboer van formaat. Opperman (40) boer op die plaas Smaldeel naby Mookgophong in vennootskap met me. Belinda Streicher le Roux, ’n ekonoom van Polokwane.
Terwyl hy na matriek in 2002 op die Lugmag se antwoord gewag het, het hy solank by B&F Elektries van mnr. Barrie du Plessis op die dorp gewerk en sommer ’n ambag in elektriese verkoeling verwerf.