Volgens hom het baie nat toestande en die gevolglike opkoms van onkruid daartoe aanleiding gegee dat snywurms hierdie plantseisoen ’n groot plaag is. “Snywurms oorleef in onkruid. Omdat ons deur so ’n nat seisoen is en die huidige seisoen nat begin het, kon produsente onkruidbekamping nie so goed toepas soos wat hulle wou nie.”
Doeltreffende insekdoders is vir die bekamping van snywurms beskikbaar. ’n Probleem ontstaan wanneer iets nie werk nie en ander produkte ingespan moet word. “Die alternatiewe is dikwels sterker produkte wat nie goed is vir die omgewing nie. ’n Mens wil nie eintlik so baie insekdoders spuit nie.”
Hy sê dit is noodsaaklik om so vroeg as moontlik op die teenwoordigheid van snywurms te let sodat die larwes uitgeroei kan word terwyl hulle nog klein is. Dit is egter baie moeilik om dít vas te stel, wat die bekamping daarvan verder kompliseer.