My vrou se oupagrootjie, John Henry Shire, het ’n klein suikermeule saam met sy seuns, Stanley en Leslie, op die plaas bedryf. Hulle het hul eie suiker geproduseer uit die suikerriet wat op hul plase verbou is.
Ons boer nou met 160 ha suikerriet onder besproeiing, wat aan die Umfolozi-suikermeule (USM) gelewer word. Ons het drie jaar gelede ook 10 ha makadamias aangeplant.
Ons boer op plat, vrugbare, alluviale grond op die Umfolozi-rivier se vloedvlakte. Die gebied se jaarlikse reënval is sowat 950 mm, wat minder is as die 1 200-1 500 mm wat nodig is vir suikerrietproduksie. Ons vul dit dus aan met besproeiingswater uit die Umfolozi (wanneer dit beskikbaar is).