In 2022 het ’n Amerikaanse boer die wêreldrekord vir droëlandmielies verbeter toe hy 28,84 t/ha (459,51 skepels per akker) geoes het. Mnr. Russell Hedrick, van die westelike deel van die deelstaat Noord-Carolina, het tydens sy laaste oes gemiddeld 16,18 t/ha op sy plaas behaal waar hy geenbewerkingspraktyke toepas.
Op een land van 40 akker (16,28 ha) het hy gemiddeld 23,16 t/ha geoes. Vir sy inskrywing in die 2022-opbrengskompetisie van Noord-Carolina se mieliekwekersvereniging het hy 28,84 t/ha op 0,541 ha geoes, berig die Amerikaanse landboutydskrif Agweb.
Die 37-jarige Hedrick is ’n eerstegenerasie-boer en voormalige brandbestryder wat deeltyds in 2012 begin boer het. In 2015 het sy volle aandag na die boerdery geskuif.