
Die geskatte oppervlakte onder sojabone is in die hersiene oppervlakteskatting nou 1,148 miljoen ha, wat 223 000 ha (24%) meer is as die vorige seisoen. Volgens die eerste produksieskatting van die nasionale oeskattingskomitee (NOK) is die beraamde oes 2,652 miljoen ton, wat 421 680 ton meer is as die vorige seisoen.
Mnr. Werner Rossouw, uitvoerende direkteur van Silostrat, sê behalwe dat dit verreweg die grootste sojaboonoes nog in Suid-Afrika sal wees, is die opbrengskatting van 2,31 t/ha steeds 0,1 t/ha swakker as die vorige seisoen se opbrengs van 2,41 t/ha. “Daar is dus die vooruitsig dat die oes vorentoe nog opwaarts aangepas sal word en dat ons nader aan 2,8 miljoen ton kan eindig. Dit sal beteken dat plaaslike sojabone rondom uitvoerpariteit sal verhandel ten einde die surplus uit te voer.”
Mnr. Corné Louw, hoof van toegepaste ekonomie en lededienste by Graan SA, sê sojaboonproduksie lyk baie belowend. “Net die Vrystaat se verwagte oes is meer as 1,2 miljoen ton. In totaal is die soja-oes se verwagting amper 19% meer as verlede jaar.”
Rossouw sê ’n mens moet nie die verwagte mielie-oes onderskat nie. “Daar word beraam dat dit die tweede beste opbrengs in die geskiedenis kan wees met 6,05 t/ha en dit word net oortref deur die 2017-rekord van 6,4 t/ha. Die ses hoogste opbrengste in Suid-Afrika se geskiedenis vir mielies is in die afgelope sewe seisoene gelewer. Dit was hoe natter toestande eintlik oeste ondersteun het.”
Volgens die NOK se eerste produksieskatting word die kommersiële mielie-oes op 15,615 miljoen ton geraam, wat 145 050 ton (0,9%) meer is as die vorige seisoen. Die hersiene skatting van die oppervlakte onder mielies is 2,583 miljoen ha, wat 1,5% minder is as wat verlede seisoen aangeplant is en 1,5% meer is as die voorlopige skatting ’n maand gelede.
Rossouw sê volume-gewys sal dit die derde grootste oes in die geskiedenis van Suid-Afrika wees. “Dit beteken aan die volumekant het ons ook ons vyf grootste oeste ooit in die afgelope sewe jaar. Ons kan dus sien wat die impak van weersomstandighede plaaslik op ons produksie het.”
Witmielies
Louw sê die witmielies op die lande lyk beter as verlede jaar omdat die omstandighede in die weste waar die meeste witmielies geplant word – veral Noordwes en die Vrystaat – ook beter is as laasjaar. Geelmielies is daarteenoor laer en besproeiingsprobleme weens beurtkrag kan hier ’n rol speel.
Die NOK raam die oppervlakte onder witmielies op 1,521 miljoen ha, wat ’n afname van 3,5% is teen oor die vorige seisoen. Die produksieskatting is 8,187 miljoen ton, wat 4,3% minder is en die opbrengs word geraam op 5,38 t/ha. In die geval van geelmielies is die oppervlakteskatting 1,062 miljoen ha, wat 1,34% meer is as die vorige seisoen. Die produksieskatting is 7,428 miljoen ton, wat 2,52% minder is en die opbrengs word geraam op 6,99 t/ha.
Sonneblomme, grondbone, sorghum
Wat sonneblom-aanplantings betref, is die hersiene oppervlakteskatting 555 700 ha, wat 17,2% minder is as die vorige seisoen. Die produksieskatting staan op 777 260 ton en dit is 8,31% minder as die vorige seisoen met ’n verwagte opbrengs van 1,40 t/ha. Vir grondbone is die oppervlakteskatting 32 300 ha, wat 25,6% minder is as die vorige seisoen. Nogtans is die verwagte oes van 51 155 ton sowat 1,58% meer weens ’n goeie verwagte opbrengs van 1 t/ha.
Sorghum se aanplantings het afgeneem met 8,6% tot 34 000 ha en die produksieskatting is 112 330 ton, wat ook 8,9% meer is as die vorige seisoen weens ’n beter verwagte opbrengs van 3,3 t/ha. Vir droëbone is die geskatte oppervlakte 36 400 ha wat 15,15% minder is en die produksieskatting is 49 755 ton – 5,39% minder teen ’n verwagte opbrengs van 1,37 t/ha.
Genoeg voorraad vir SA
In sy reaksie op die skatting sê mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, die algehele somer-oes vir die 2022-’23-seisoen word nou op 19,3 miljoen ton geraam, wat 3% meer is as die vorige seisoen. “Hoewel dit te vroeg is om seker te wees van die oesgrootte en met nog nege maandelikse oesskattings wat voorlê, is daar die gerustheid dat Suid-Afrika waarskynlik genoeg voorraad vir plaaslike verbruik van gewasse soos mielies en sojabone sal hê. Hierdie gewasse is van deurslaggewende belang vir voedselsekerheid en veevoer.
“Die gewasse is nou in die stadium van bestuiwing in sommige dele en as die weersomstandighede gunstig bly, kan opbrengste selfs verder verbeter. Besproeiingsgebiede verg egter baie aandag en daar moet ’n oog gehou word op die maatreëls wat die departement van landbou, grondhervorming en landelike hervorming probeer tref om die nadele van beurtkrag te bowe te kom.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.