
Die sesde produksieskatting vir sojabone deur die nasionale oesskattingskomitee (NOK) is nou op ’n nuwe rekord van 2,15 miljoen ton gestel, wat 2,9% (60 000 ton) meer is as die vorige skatting. Die geskatte oppervlakte onder sojabone is 925 300 ha en die verwagte opbrengs is 2,33 t/ha.
Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, sê die somer-oes is uitstekend as ’n mens kyk na wat baie mense aan die begin van die seisoen verwag het. “Die nuwe verwagte mielie-oes van 14,7 miljoen ton beteken dat ons in ons eie huishoudelike behoeftes van sowat 11,8 miljoen ton sal kan voorsien en ’n surplus sal hê vir uitvoer.
“Ons verwag dat sowat 3 miljoen ton mielies uitgevoer sal word, wat wel minder as verlede jaar se sowat 4 miljoen ton sal wees. Wat ons nou fyn dophou, is die gehalte van die mielies soos wat die oesproses, wat vertraag was, voortduur.”
Die NOK se skatting van die oppervlakte onder mielies is nou 2,6 miljoen ha, terwyl die verwagte opbrengs 5,61 t/ha is. Die geskatte mielie-oes is 10% kleiner as die 2021-oes. Die drie belangrikste mielieproduserende gebiede, die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes, gaan na verwagting 82% van die 2022-oes produseer.
Die oppervlakte onder witmielies is 1,58 miljoen ha en vir geelmielies is die oppervlakte 1,04 miljoen ha. Die produksieskatting van witmielies is onveranderd gelaat op 7,47 miljoen ton, terwyl die opbrengs van witmielies 4,74 t/ha is. In die geval van geelmielies is die produksieskatting 7,24 miljoen ton, wat 0,5% of 35 000 ton meer is as die vorige skatting. Die opbrengs van geelmielies is 6,91 t/ha.
Die minder goeie nuus is dat sonneblomsaad se produksieskatting met 4% (38 600 ton) afwaarts aangepas is tot 922 750 ton. Mnr. Corné Louw, hoof van toegepaste ekonomie en lededienste by Graan SA, skryf dit toe aan die moontlike impak van Sclerotinia. Die oppervlakteskatting is 670 700 ha en die verwagte opbrengs 1,38 t/ha.
Grondbone
Louw wys daarop dat grondbone se skatting ook skerp afgebring is met 10,8%. “Met die oornat lande kon baie produsente nie hulle grondbone geoes kry nie en die opbrengste was baie laag.” Die verwagte oes is nou 49 000 ton teen ’n opbrengs van 1,13 t/ha. Die skatting vir sorghum is nou 136 200 ton wat 3,3% laer is as die vorige skatting en vir droëbone is die skatting ook 3% afwaarts aangepas tot 51 720 ton.
Terselfdertyd het die NOK ’n voorlopige oppervlakteskatting vir die 2022-produksieseisoen se wintergewasse gemaak. Die voorlopige skatting vir koring is 553 900 ha, wat 5,8% of 30 400 ha meer is as die vorige seisoen. Die beraamde oppervlakte in die Wes-Kaap is 360 000 ha wat dieselfde is as verlede jaar, vir die Vrystaat is dit 95 000 ha (25 000 ha meer) en vir die Noord-Kaap 37 000 ha (1 500 ha meer).
Die voorlopige oppervlakteskatting vir kanola is 121 200 ha, wat 21% (21 200 ha) meer is as verlede seisoen en vir gars is dit 106 600 ha, wat 12,5% (11 870 ha) meer is as die vorige seisoen. Die voorlopige oppervlakteskatting vir hawer is 30 150 ha en vir soetlupine 30 000 ha.