
Die derde skatting van die nasionale oesskattingskomitee (NOK) raam die kommersiële mielie-oes nou op 14,72 miljoen ton. Hoewel dit 10% minder as verlede jaar is, is dit aansienlik meer as die tienjaar-gemiddelde van 12,8 miljoen ton. Die sojaboon- en sonneblomoeste is albei die tweede grootste op rekord.
Die mielie-oes is nou 39 000 ton (0,27%) meer as die vorige skatting en die oppervlakte onder mielies is 2,6 miljoen ha met ’n opbrengs van 5,61 t/ha. Die drie belangrikste mielieproduserende gebiede, die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes, gaan na verwagting 82% van die 2022-oes produseer.
Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, sê hoewel die impak van die onlangse kwaai reën in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap waarskynlik nie in die oesskatting verreken is nie, word minder as ’n miljoen ton kommersiële mielies in dié provinsies geproduseer. Die vernaamste landboubedrywighede is melkboerdery, tuinbou, suiker en lewende hawe. Die reënskade daar sal nie veel van ’n invloed op die oesskatting vir graan en oliesade hê nie.
Die oppervlak onder witmielies is 1,58 miljoen ha met ’n opbrengs van 4,8 t/ha en vir geelmielies is die oppervlak 1,05 miljoen ha met ’n opbrengs van 6,8 t/ha. Die produksieskatting van witmielies is nou 7,55 miljoen ton en vir geelmielies 7,18 miljoen ton. Sihlobo wys daarop dat Suid-Afrika steeds ’n netto uitvoerder van mielies is met meer as 2 miljoen ton wat in die nuwe bemarkingsjaar wat in Mei begin het, uitgevoer sal word.
In ooreenstemming met verwagtings
Dr. Werner Rossouw, handelaar en direkteur van Silostrat, sê die oesskatting was in ooreenstemming met wat handelaars verwag het. “Met die vroeë mielies wat nou gestroop word, is daar bietjie gehalteprobleme en heelwat tweede- en derdegraadse mielies word gelewer. Ons verwag egter dat die gehalte van die mielies wat later geplant is, beter sal wees. Met opbrengste in hierdie stadium lyk dit of die mielie-oes nader aan 15 miljoen ton kan beweeg.”
Die NOK se skatting vir sonneblomsaad is 963 000 ton, wat 3 550 ton meer is as die vorige skatting. Die oppervlakte is 670 700 ha en die verwagte opbrengs 1,44 t/ha. Sihlobo sê hierdie tweede grootste oes nog kom op ’n baie geleë tyd omdat daar kommer is oor wêreldvoorrade weens die oorlog in Oekraïne en Indonesië se verbod op die uitvoer van palmolie. Hoewel Suid-Afrika steeds nie in die plaaslike vraag kan voorsien nie, maak die groter oes hom bietjie minder afhanklik van invoer.
Die produksieskatting van sojabone is onveranderd gelaat op 1,89 miljoen ton. Die geskatte oppervlakte beplant met sojabone is 925 300 ha en die verwagte opbrengs is 2,04 t/ha.
Rossouw sê die onlangse reën het die lewering van sojabone en sonneblom effens laat afplat, maar dat dit in die volgende weke skerp behoort toe te neem. Gegrond op die opbrengste van lewerings tot dusver kan die oeste vir albei nog ietwat opwaarts aangepas word.
Wat ander somergewasse betref, raam die NOK die verwagte grondbone-oes nou op 70 400 ton, wat 5,2% laer is as die vorige skatting. Die produksieskatting van sorghum is onveranderd op 137 220 ton.
Wintergewasse
Die NOK het terselfdertyd produsente se voorneme om wintergewasse te plant bekend gemaak. Vroeë aanduidings is dat produsente vir die 2022-produksieseisoen 538 350 ha met koring wil beplant. Dit is 2,8% meer as verlede jaar. Sowat 65% hiervan sal in die Wes-Kaap geplant word, gevolg deur die Vrystaat met 18% en die Noord-Kaap met 7%.
Die verwagte aanplantings van moutgars is 109 100 ha, wat 15,2% meer is as verlede jaar, en vir kanola is dit 120 000 ha, wat 20% meer is as verlede jaar. Sowat 29 150 ha sal met hawer beplant word, wat ’n afname van 19,6% verteenwoordig.
Dr. Dirk Strydom, hoof van bemarking, Nampo en navorsingskoördinering by Graan SA, sê die verwagting is dat daar heelwat meer koring in die Vrystaat geplant gaan word. “Veral in die watertafelareas waar daar baie vog is, is koring ’n opsie om te help met vogbestuur. Dan is die aansienlike skuif na kanola toe in die Wes-Kaap ook iets om van kennis te neem.”