Die reën van die eerste twee weke in November het plek gemaak vir enkele dae se sonskyn. Daarmee saam het boere inderhaas verder geplant – en in sommige gevalle oorgeplant nadat aanplantings tydens die eerste harde reënbuie verspoel het. Reën word weer vir vandag (Dinsdag) oor groot dele van die provinsie voorspel.
“Jy sien net stof- en rookwolke soos die boere vanoggend hier by ons plant,” vertel mnr. Friedl von Maltitz, vise-president van Vrystaat Landbou en boer van Ficksburg, waar die son oor die naweek en Maandag geskyn het. “Ons is hard besig om die mielies in die grond te kry. Party boere kon hul sojabone voor hierdie reën inkry, maar daar is ander wat nou jaag om dit nog binne die optimale tyd te plant.”
Baie boere moet eers weer lande skoonmaak voordat hulle kan plant, want die aanhoudende reën het die onkruid welig laat groei, sê Von Maltitz.