Daarom word dit dikwels voorgehou as ’n opsie vir veral kleinboere om as stapelvoedsel te plant te midde van klimaatsverandering, om sodoende voedselsekerheid te verseker en lewensmiddele te verbeter. Op droëlandverbouing sal dit net soos enige ander gewas geraak word as reën wegbly, of wisselvallig voorkom.
Daarom is dit belangrik om te weet waar die beste plekke is om dit te plant, sê die skrywers van ’n oorsigartikel in die South African Journal of Science, onder leiding van me. Nothando Dunjana van die Nelson Mandela-universiteit se George-kampus.
Hulle sê uiters min studies is al plaaslik gedoen om te verstaan hoe verminderde reënval en verhoogde temperature, soos wat te midde van klimaatsverandering verwag word, gaan inspeel op gebiede waar sorghum tans in Suid-Afrika verbou word, en om streke met ’n geskikte mikroklimaat te identifiseer.