Vir die tweede opeenvolgende jaar is Suid-Afrika in die greep van ’n La Niña-verskynsel – ’n weerstelsel wat geassosieer word met bonormale reënval.
In ons waterskaars land bring dit welkome verligting, veral in die landbou waar dit lei tot goeie produksietoestande vir somergewasse en uitstekende veeweiding.
La Niña het egter ook ’n donker kant omdat dit gewoonlik gepaard gaan met vloede, haelskade, verlaging in grondgehalte, meer gronderosie en landerye wat te nat is om te bewerk.