Rusland en Oekraïne het op 18 Maart, die dag waarop hul ooreenkoms sou verval, die ooreenkoms vir ’n “humantiêre korridor” hernu wat Oekraïne toelaat om graan deur die Swartsee uit te voer. Rusland sê die ooreenkoms is met 60 dae verlang en Oekraïne sê 120 dae.
Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, sê die ooreenkoms wat in Julie 2022 in werking getree het, was gerig op graanuitvoer van Oekraïne af na die wêreldmark en rofweg 25 miljoen ton graan en groente-olies is sedertdien uitgevoer.
“Rusland het daarby gebaat danksy ’n toename in koringuitvoer. Rusland voer normaalweg sowat 35 miljoen ton koring per jaar uit. Ons glo Rusland het ’n goeie rede om met die ooreenkoms vol te hou omdat die land sowat 44 miljoen ton koring vir uitvoer in die 2022-’23-bemarkingsjaar het. Dit is 34% meer as die vorige jaar volgens data van die internasionale graanraad (IGC)”