Afgevaardigdes van verskeie saadmaatskappye het op ’n onlangse vergadering van die kanolawerkgroep wat deur die Proteïennavorsingstigting (PNS) in die Agter-Paarl aangebied is, gesê dit is in die algemeen tans moeilik om sekere kanolakultivars betyds vir aanplanting te kry, en dat daar min oordragsaad beskikbaar is soos in ander jare.
Saadbestellings moet in September en Oktober deurgegee word. Ongunstige klimaatstoestande bemoeilik egter tans saadproduksie reg oor die wêreld – veral in die Noordelike Halfrond.
Dit veroorsaak algemene saadtekorte. Dit maak dit baie moeilik vir produsente as hulle saad nie betyds ontvang om te plant nie. Die grootste kwessie vir die bedryf is tans om nuwe en goeie, veral Australiese, kanolakultivars betyds te kry.