Wes-Kaapse graanboere is in ’n moeilike posisie. Die kanolaprys gaan na verwagting hoog bly, maar nuwe saad is skaars en hulle wil nie hul wisselboustelsels in die wiele ry deur nog ’n jaar koring te plant nie.
Daar is egter heelwat risiko’s wat met die gebruik van teruggehoude kanolasaad gepaadgaan, en mnr. Piet Lombard van die Wes-Kaapse departement van landbou beskou dit nie as die verantwoordelike opsie nie.
Lombard het op Overberg Agri se jaarlikse voorplant-inligtingsdag op Rietpoel gesê ’n verlaging van 10-15% in opbrengs kan verwag word, asook ’n afname in olie-inhoud. Eweneens kan die voorkoms van siektes, soos swartstam en Sclerotinia, toeneem.