Ek is ’n mielieboer. Ek is nie skaam daaroor nie. Ek is nie ’n enkeling nie — daar is 33 000 van my soort. Dit is ’n lang, steil pad wat ons onder die skaduwee van ’n steeds armer wordende aarde gevolg het.
En nou, in die jaar 1952, lê ons teelaarde nakend van Natal in die ooste tot Noord-Transvaal en suidwaarts oor die stofgeteisterde vlaktes van die Vrystaat.
In die ongenaakbare greep van nog ’n droogte het ons die einde bereik van die pad wat ons gebring het na die vernietiging van ons grond en die verplettering van die bron van ons bestaan. By hierdie kruispad verrys die vraagteken met finaliteit: Mielieboer, waarheen? Daar is geen keuse nie — ons moet wegbreek.