’n Nuwe kasterolie-tipe — so taai soos sekelbos — is vanjaar met groot welslae op die Springbokvlakte geplant. Ondanks die droogte word ’n opbrengs van 1 500 pond (680 kg) per morg (0,86 ha) verwag. Vir dié boere word ’n blink toekoms voorsien.
Die plaaslike produksie en uitvoer van kasterolie kan sommer nog baie opgestoot word. Baie boere besef egter nog nie die waarde van kasterolie as kontant- en wisselbougewas nie.
Dit is nie net ’n geharde plant wat droogtes goed kan weerstaan nie, maar die prys bly ook stabiel genoeg om aan die boer ’n goeie inkomste te bied. In die ná-oorlogse jare het die wêreldhandel in kasterolie en kasteroliesaad vinnig toegeneem.