
Boere in Suid-Afrika voel asof hulle op ’n trapmeule hardloop waarvan die tempo elke nuwe seisoen ’n klikkie vinniger gestel word. As hulle nie beter opbrengste lewer as die vorige seisoen nie, kan hulle nie oorleef nie, sê mnr. Jozeph du Plessis, boer van Schweizer-Reneke en direksielid van Graan SA (GSA).
Du Plessis het op ’n paneelbespreking oor innovasie op GSA se jaarlikse kongres gesê die probleme wat plaaslike graanboere moet oorkom, is groot en die winsmarges raak al hoe kleiner. “Ons in Suid-Afrika moet met die beste ter wêreld meeding wat in baie meer geskikte klimaatstoestande boer en omvattende hulp van hul regering kry.”
Hy het Dwight Eisenhower, voormalige Amerikaanse president en plaaskind van Kansas, aangehaal, wat gesê het boerdery lyk maklik wanneer jou ploeg ’n potlood is en jy is duisend myl van die mielieland af. “Dit is baie waar vir Suid-Afrikaanse landbou ook. Dit is maklik om net op die suksesstories te konsentreer, maar ek kan julle verseker dat dit baie moeilik is om in Suid-Afrika te boer.”
Hy sê plaaslike boere het te kampe met ’n moeilike en onstabiele klimaat gekenmerk deur droogtes en vloede wat deur klimaatsverandering vererger word. Hulle worstel ook met ander probleme soos infrastruktuur wat uitmekaar val en dit duurder en moeiliker maak om sake te doen, asook misdaad wat hoogty vier.
“Op die plaasvlak het ons ’n kosteknyptang waar die produksiekoste vinniger styg as die pryse vir ons produkte. Daar is op die oomblik geen ondersteuning van die regering vir kommersiële boere in Suid-Afrika nie, daar is geen veiliheidsnet en geen omvattende versekeringskema vir boere nie. Ons almal weet die risiko’s is hoog.”
Kosteknyptang raak erger
Du Plessis het ’n grafiek gewys wat getoon het hoe die koste van insette soos saad, oesbeskerming en brandstof oor die afgelope jare heelwat skerper gestyg het as die prys wat boere vir mielies kon kry. Dit het heelwat boerderye in die slag laat bly. Veral sedert 1995, toe bestaande ondersteuningstelsels vir kommersiële boere verdwyn en die vryemarkstelsel ten volle ingetree het, het verskeie graanboere, van klein tot groot, verdwyn. Grootte was volgens Du Plessis nie die bepalende faktor vir oorlewing nie.
“In my eie distrik, Schweizer-Reneke, het die aantal boerdery-eenhede oor 20 jaar gedaal van meer as 100 in 1995 tot 52 in 2015. Die goeie nuus is die plase wat oorleef het, het aangepas en doeltreffender geraak om groter graanopbrengste te lewer.”
Hy het na sy eie familieboerdery verwys waar die mielie-opbrengs van gemiddeld 1,8 t/ha in die 1980’s tot 5,9 t/ha in 2015 verhoog het. Hierdie styging in opbrengs en produktiwiteit kan hoofsaaklik aan die verbetering van tegnologie en doeltreffender boerderymetodes toegeskryf word. Hierdie noodsaak om voortdurend te verbeter, verklaar waarom Suid-Afrika se boere so gou is om nuwe tegnologie te gebruik. “En almal van klein tot groot boere trek voordeel hieruit.”
Hy het gevra dat belanghebbendes in Suid-Afrika in gedagte moet hou dat die land in sy eie behoeftes voorsien van die stapelvoedsel, mielies. Dit is belangrik in ’n land waar soveel van die bevolking verstedelik is en vyf uit elke ses mense alles wat hulle eet, moet aankoop. Daarby beteken die feit dat die land in sy eie mielie-behoeftes voorsien, dat Suid-Afrika nie uitgelewer is aan pryse teen invoerpariteit, wat bykomende koste meebring om die graan tot by die eindverbruiker te verskeep.
“Vir agt uit die afgelope tien seisoene was ons netto uitvoerders en dit het beteken die goedkoopste mielies ter wêreld is in ons eie land geproduseer. ’n Oorvloed van jou stapelvoedsel vir agt uit tien jaar is baie voordelig vir ’n land met soveel armoede en werkloosheid soos ons s’n.”