
Behalwe dat die opbrengste beter is as wat hulle verwag het gegewe die min reën wat hulle gekry het, het hulle ook meestal goeie oesweer gehad.
Mnr. Billy Stewart van Grootboskop by Napier sê dit gaan beter as wat hy verwag het.
“Die kanola verbaas ons. Ons het oor die 2 ton per ha van ál die kultivars geoes. Die hawer het ook baie goed gedoen. Ek het ’n opbrengs van 4,5 t/ha en grade van HS1 tot voergraad gekry.
“Ons sukkel vanjaar baie met hawer en gars wat ander graan bevat. Dit was só droog toe ons geplant het, ons kon nie die opslaggraan doodspuit nie.”
Sy gars het ook gemiddeld meer as 4 t/ha opgelewe, die meeste daarvan moutgraad.
Die koring, wat baie reën nodig het, verbaas hom die meeste. Hy verwag ’n opbrengs van gemiddeld 3,7 t/ha, maar daar is van sy kampe wat 4 t/ha gehaal het. Die koringgradering is meestal B2 en B3.
Kg/mm ‘is hoog’
Mnr. Tienie Theunissen van Drayton by Caledon sê vanjaar is die kilogram graan per millimeter reën hoog. Dit is die beste maatstaf van doeltreffendheid.
Sy kanola-opbrengs is bo verwagting goed, maar hy sê die gars het almal aan die raai omdat die stikstofinhoud so laag is in ’n droë jaar. Ook die koring se proteïeninhoud is aan die lae kant.
Vanjaar se oes hou aan om hom te verbaas, sê mnr. Anton Mouton wat by Eendekuil in die Swartland boer. Die koringopbrengs is 1,8 ton/ha by hom, maar boere wat meer reën gekry het, praat van 2-2,3 ton/ha.
“Vir die reën wat ons gekry het, moes ons so net oor die 600 kg/ha geoes het.
“Vanjaar was maar nie ’n lupienejaar nie. Die lupiene wat ’n bietjie lengte gehad het sodat jy onder hom kon inkom, het rondom ’n ton/ha gelewer, maar die ander 500-800 kg/ha.”
Mouton sê kanola het sy kant gebring met die 1,1 ton/ha wat hulle geoes het.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.