Veral sojabone vaar vanjaar uitstekend en in die westelike deel van die provinsie het baie mielie-aanplantings mooi herstel van die oormaat reën tydens die plantseisoen. In die Oos-Vrystaat is oeste soos suikerbone en aartappels se gehalte egter swakker weens die oormaat reën wat daar geval het.
“In ons wêreld kom ons skades van te veel reën, nie sommer van te min nie,” sê mnr. Jaco Breytenbach, ’n saaiboer in die distrik Fouriesburg.
Toe Landbouweekblad op 16 Februarie met hom gesels het, het hy reeds 125 mm vir die maand aangeteken en 820 mm tot dusver vir die hele seisoen. Sy gemiddelde reënval vir ’n somerseisoen is 450 mm. “Ek kom nou van Bethlehem af. Die damme loop oor en die water loop soos riviere in die paaie af.”