Koringboere in die Wes-Kaap is in dieselfde benarde voorplantsituasie as twee seisoene gelede. Met koringpryse wat heelwat hoër is in verhouding tot mieliepryse, kan Vrystaatse produsente afsien van hul voorneme om minder koring te plant.
Volgens mnr. Wessel Lemmer van die Wes-Kaapse departement van landbou op Elsenburg, is dit vir boere in die winterreënstreek 'n bron van kommer. As Vrystaatse boere meer plant, kan dit potensiële prysstygings in die res van die seisoen onder druk plaas.
Produksiekoste is sowat R1 200/ton in sekere dele van die winterreënstreek. In April vanjaar was invoerpariteit in Durban sowat R1 562/ton en die uitvoerpariteit R755/ton. Safex-pryse was ook ongeveer R1 500/ton.
In April 2003 neig koring- en mieliepryse na dieselfde prysvlakke as twee seisoene gelede tydens koringplanttyd. Koringpryse was in Mei 2001 meer as R500/ton hoër as mieliepryse.
Die jongste voorneme om te plant, dui daarop dat koringprodusente van voorneme is om net 841 000 ha in die seisoen 2003/04 te plant, maar die huidige prysverhouding tussen koring en mielies kan die situasie verander (tabel).
As boere by hul voorneme hou en net 841 000 ha plant, en die gemiddelde opbrengs beloop 2 ton/ha, behoort die tekort in eindvoorraad sonder enige invoer op 30 September 2004 nagenoeg 393 255 ton te beloop. Met 'n benodigde pyplynvoorraad van 552 110 ton sal koring ingevoer moet word en behoort pryse na aan invoerpariteit te wees. In 'n normale jaar word naastenby 400 000 ton koring ingevoer. In só 'n situasie sal internasionale pryse en die wisselkoers 'n groter rol in produsente se bemarkingsbeplanning speel.
Die internasionale koringpryse is tans hoër as in Mei 2002, maar toon 'n sterk dalende neiging omdat verwag word dat die internasionale voorraadvlakke tot hul gewone vlakke sal terugkeer. As dít die geval gaan wees, sal internasionale fundamentele faktore 'n kleiner rol speel waartydens plaaslike produsente nie die geleenthede kan benut om koring teen hoër pryse te verkoop nie. Die rand-dollar-wisselkoers is tans op ongeveer dieselfde prysvlakke as in Mei 2001.
As boere 841 000 ha plant en die gemiddelde opbrengs is ongeveer 2,5 ton/ha (in gunstige toestande), sal die eindvoorraad (surplus) op 30 September 2004 sowat 27 245 ton beloop, teenoor die benodigde pyplynvoorraad van 552 110 ton. Die belangrikheid van invoerpariteit sal teen hierdie voorraadvlakke begin afneem en plaaslike faktore sal 'n groter rol begin speel in prysbepaling.
Indien boere afsien van hul voorneme om minder te plant en soos in die seisoen 2001/02 sowat 959 400 ha plant, sal daar - met 'n opbrengs van 2,5 ton/ha - op 30 September 2004 'n surplus van 323 245 ton wees. In só 'n geval sal plaaslike groeitoestande die koringprys bepaal en sal boere nie veel baat vind by internasionale koringprysstygings en 'n verswakking in die wisselkoers nie. Koringpryse sal eerder nader aan uitvoerpariteit neig.
Die situasie kan
vererger as die gerugte waar is dat die eindvoorraad op 30 September vanjaar as gevolg van verdere invoer sowat 900 000 ton gaan wees - 182 255 ton méér as die 717 745 ton wat nou beraam word. As dit waar is, kan selfs die kleiner aanplanting met 'n opbrengs van 2,5 ton per hektaar daartoe lei dat koringpryse in die seisoen 2003/04 na uitvoerpariteit sal neig.
Aanbod- en vraagscenario's vir 2003/04 | ||||
| 2002/03 | 2003/04 | ||
Scenario 1 | Scenario 2 | Scenario 3 | ||
Gemiddelde opbrengs1 (ton/ha) | 2,5 | 2,0 | 2,5 | 2,5 |
Aanplanting2 (ha) | 941 100 | 841 000 | 841 000 | 959 400 |
(ton) | (ton) | (ton) | (ton) | |
Beginvoorraad op 1 Oktober | 580 000 | 717 745 | 717 745 | 717 745 |
Totale produksie | 2 320 745 | 1 682 000 | 2 102 500 | 2 398 500 |
Verwagte invoer | 610 000 | 0 | 0 | 0 |
Verwagte aanbod | 3 510 745 | 2 399 745 | 2 820 245 | 3 116 245 |
Verwagte vraag3 | 2 793 000 | 2 793 000 | 2 793 000 | 2 793 000 |
Eindvoorraad op 30 | 717 745 | -393 255 | 27 245 | 323 245 |
Benodig in pyplyn | 552 110 | 552 110 | 552 110 | 552 110 |
Surplus/tekort | 165 635 | -945 365 | -524 865 | -228 865 |
1 = Scenario 1 se opbrengs word as ondergemiddeld beskou en dié van Scenario 2 en Scenario 3 as bogemiddeld, soos in gunstige jare. | ||||
2 = Scenario 1 en 2 is volgens Februarie 2003 se voorneme om te plant en Scenario 3 s'n is die finale oppervlakte wat in 2001/02 geplant is. | ||||
3 = Sagis se finale verbruik in 2001/02. Dieselfde verbruik is vir 2002/03 en 2003/04 geneem.
|
Groter vertroue, beter dialoog nodig
Produsente
en handelaars se optrede word dikwels oor en weer gekritiseer. Meulenaars
oorweeg elke jaar om koring by nie-tradisonele uitvoerlande te koop, met die
gehalte-, prys- en wisselkoersrisiko's wat daarmee gepaardgaan. Dit is omdat
koringprodusente nie hul koring voor oestyd van die hand wil sit nie in 'n
poging om hoër pryse ná oestyd te behaal.
Baie Wes-Kaapse boere hou hul
koring terug omdat hulle meen die kans is goed om beter pryse ná oestyd te
behaal. Die seisoenale prysindeks wys hulle is reg en dat koring wel teen hoër
gemiddelde prysvlakke gedurende Desember en Januarie verhandel as in die maande
net voor oestyd.
As gekyk word na die prysindeks, neig koringpryse laer in
die maande voor oestyd. Hiervolgens is die koringprys in Januarie 12,6 % hoër as
in die voorafgaande Oktober. Dit verklaar die optrede van produsente, sê mnr.
Lemmer.
Daar is 'n groot behoefte onder Wes-Kaapse koringprodusente dat
dialoog met plaaslike meulenaars, asook wedersydse vertroue, versterk moet word.
Hierdie vertroue behoort nie net op individuele produsent- en aankopervlak
aandag te geniet nie, maar ook op hoër bestuursvlakke.
25 April 2003