
Die Koringforum sê luidens ’n verklaring die nuwe trust, bekend as die Suid-Afrikaanse wintergraanbedryfstrust (SAWCIT), is deur die bedryf op die been gebring nadat die Nasionale Landboubemarkingsraad nie die bedryf se aansoek vir die voortsettting van die statutêre heffing wou aanbeveel nie.
Die doelstellings en funksies van die nuwe trust is feitlik identies, maar die bedryfskoste sal minder wees. Die forum sê hierdie tussentydse maatreël sal geld tot die Wintergraantrust se bestuur weer na wense funksioneer.
Daar is al geruime tyd ongemaklikheid oor hoe die Wintergraantrust – waarin ministeri?le aanstellings dreig om te oorheers – bestuur is. Belangrike bedryfsfunksies soos die werk van die SA Graanlaboratorium (SAGL), die SA Graaninligtingsdiens (Sagis), navorsingsprojekte en transformasie word met die geld gefinansier en ’n alternatiewe stelsel moes gereed gekry word voor die begin van die nuwe bemarkingseisoen op 1 Oktober.
Die vrywillige heffings geld slegs vir die 2020-’21-bemarkingsjaar en die bedryf sal in die loop van die jaar besluit hoe noodsaaklike dienste in die toekoms gefinansier sal word. Die heffing is R14,50 per ton vir koring en gars en R6 per ton vir hawer. In alle gevalle is BTW uitgesluit. Dit is betaalbaar as dit deur die produsent verkoop word, as dit in- of uitgevoer word, as dit namens die produsent verwerk word en wanneer ’n silo-sertifikaat daarvoor uitgereik word.
Die forum sê die nuwe trust word gesteun deur die saadmaatskappye (Sansor), opbergers (Agbiz Grain), produsente (Graan SA), veevoervervaardigers (Afma), handelaars (Sacota), Safex, meulenaars (Nasionale Meulenaarskamer), bakkers (Suid-Afrikaanse Kamer van Bakwese), Pioneer Foods en die SA Nasionale Verbruikersunie.
Produsente en almal wat graan lewer, moet magtiging gee dat die vrywillige heffing wat in die prys van die koring, gars of hawer ingereken is, by die verkoop of lewering daarvan afgetrek mag word. Die heffing word aan die SAWCIT betaal en die trustees wat deur die bedryf aangestel is om in die trust te dien, sal die gebruik van die heffings namens die bedryf bestuur en beheer.
Die forum sê die landboubedryf in Suid-Afrika moes sedert die deregulering van die beheerrade belangrike funksies met hul eie geld onderhou. “Hierdie funksies stel ons waardeketting in die landbou, vanaf produsent tot verbruiker, in staat om wêreldwyd mededingend te wees. Dit verseker voedselsekerheid. Die funksies wat gefinansier word, is onder meer van die hoekstene waarop ons vrye mark gevestig is.”