
Die provinsie het die afgelope paar weke bonormale reën ontvang.
Mnr. Hugo van Doornick, ’n boer in die distrik Bethlehem, sê ryp vroeg in April kan ’n groot bedreiging vir veral soja-aanplantings wees as boere later as November plant.
Hy noem ook dat boere in dié distrik reeds 208 mm reën vir November ontvang het en 94 mm vir Oktober. “Boere in die omgewing het sover bitter min geplant en dit wat reeds geplant is, versuip nou.” Hy skat dat daar tot dusver minder as 30% van die beoogde aanplantings gedoen is.
Noord van Bethlehem het die reën vroeër as middel Oktober begin. Boere kon dus ook vroeër begin plant.
Afgesien van die deurnat lande is talle boere blykbaar op hul plase vasgekeer weens die nat toestande.
Mnr. Rudi Janse van Vuuren van die distrik Allanridge sê daar is boere in sy omgewing wat vir November alleen reeds 201 mm reën gekry het. Water op dele van die S161-pad is reeds meer as 30 cm diep. “Die landerye is besonder nat. Water loop uit of staan op sommige plekke net.”
In die distrik Marquard het boere net die afgelope sewe dae reeds van 100 mm tot 150 mm ontvang.
Boere in die distrik Rouxville het reeds by 160 mm reën gekry en kan volgens mnr. Cois van Rooyen nie nou plant of lusern sny nie.
Paaie
Hoewel boere dankbaar is vir die reën, bring die oormaat nattigheid ook probleme, sê mnr. Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou. “Afgesien van aanplantings wat versuip, rig die baie reën ook erge skade aan ons reeds verkrummelde padinfrastruktuur aan.”
Intussen het die Vrystaatse departement van paaie in antwoord op Landbouweekblad se navraag oor die gehawende R708 tussen Marquard en Clocolan, waaroor vroeër berig is, gesê die departement stuur distrikspanne om die slaggate tydelik op te vul.
“Die departement sal ’n paneel van 15 kontrakteurs aanstel met die nodige vaardigheidsvlakke om permanente instandhouding op Vrystaatse paaie te doen,” het me. Hillary Mophete, woordvoerder van die departement, gesê.
Die aanstellings sal teen begin Desember voltooi wees. “Dit sal dus betyds wees om kritieke dele van die provinsiale padnetwerk voor die Desember-vakansie te beveilig.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.