Hare op die tande. Dít is wat ’n boer van Hoopstad in die droë weste van Suid-Afrika moet hê om suksesvol te boer. As hy egter sy grond ken en betyds die nodige aanpassings kan doen aan die hand van die reënval en sy kennis van sy plaas, verander dit die sinkplaatpad in ’n gelyk grondpad.
Is hy boonop met watertafelgrond geseën, lyk die voorsigte nóg rooskleuriger. Hierdie vermoë om te leer, planne te beraam, aan te pas en ’n kundige kunsmisbeleid toe te pas, het die broers mnre. Neels en Kobus Eksteen in die 2020-’21-produksiejaar in staat gestel om die afdeling vir mielies op watertafelgrond in Graan Suid-Afrika se Groei vir Goud-opbrengskompetisie te wen.
Hul wenopbrengs het 13,1321 ton/ha met die Pioneer-baster P 2927 WYR beloop. Die gemiddelde opbrengs op daardie blok was 8,96 ton/ha. Die verbouingspraktyke was eenvormig oor die hele blok, maar die deel waar die wenopbrengs behaal is, het effens sterker leemgrond wat meer water hou as die res, wat baie sanderig is.