
Kropslaai, oorspronklik van Mediterreense afkoms, is gesond vanweë die hoë konsentrasie vitamiene (A, K en C), foliensuur, mangaan en chroom wat dit bevat.
Mev. Ronel Kok, markagent by die Boeretrust van die Pretoria-boeremark, sê kropslaai was gedurende die eerste week in Maart baie duur weens swaar neerslae. Dit het teen R19 tot R20 per kop verhandel, maar het vanaf Vrydag 7 Maart weer goedkoper geword. Pryse het tussen R12 tot R15 gewissel.
“Verskeie faktore beïnvloed pryse, soos die weer en vraag,” sê Kok. “Mense eet minder slaai in reënweer en dis moeilik om die produkte van die plase te vervoer wanneer dit reën.”
Volgens Kok neem die vraag ook gewoonlik in die middel van die maand af omdat mense dan minder geld het om te bestee.
Kropslaai word geoes wanneer die koppe ferm is, gewoonlik vroeg in die oggend wanneer die temperatuur nog koel is. Dit word in ’n koel, droë plek geberg. Dit word in kartonbokse na die varsproduktemarkte geneem of vir die winkelrakke in kardoesies verpak. Los blare word ook in vooraf verpakte slaaimengsels gebruik.