In teenstelling met dele van die Noord-Kaap waar sewe jare se droogte verlede jaar agt geword het, kan produsente van somergewasse spog met die tweede grootste oes ooit.
Nadat daar vroeër vanjaar bespiegel is oor kleiner oeste as wat die Oeskattingskomitee voorspel het, het die finale oesskatting in November gedui op ’n mielie-oes van 16,2 miljoen ton.
Die afgelope dekade word dit net oortref deur 2017 se oes van 16,8 miljoen ton. Suid-Afrika se verbruik is sowat 11,5 miljoen ton wat beteken daar was 3,4 miljoen ton beskikbaar vir uitvoer. Teen laat November, het die mielie-uitvoer op 2,24 miljoen ton (65%) gestaan.