
Die organisasie sê in ’n nuusflits die laat mielie-aanplantings oor die grootste deel van die westelike en sentrale mieliestreek in Suid-Afrika is hierdie seisoen ’n groot bron van kommer vir boere. Dit is belangrik om die impak wat dit op sekere insekplae kan hê, te oorweeg. Daarom word aanbeveel dat produsente waaksaam bly.
Onafhanklike waarnemings het tot stilstand gekom nadat Graan SA, wat verlede jaar betaal het om dit te laat doen, hom in Desember onttrek het omdat die department van landbou, bosbou en visserye glo nie sy deel bygedra het nie. Die departement het verlede maand gesê hy moniteer self vir veral herfskommandowurms en daar word klem gelê op gebiede waar die plaag nie voorheen voorgekom het nie. Baie min skade is nog in die 2018’19-mielieproduksieseisoen aangemeld. Die department het gesê kleinboere in Limpopo ly skade, terwyl KwaZulu-Natal se departement van landbou en landelike ontwikkeling gereeld motwaarnemings en skade aanmeld. Geen verslae van skade is toe al uit die res van die land ontvang nie.
Die voorgeskrewe bekampingsmaatreëls vereis dat ’n boer herskommandowurms volgens die aanbevole maatreëls van die department bestry. Kragtens die maatreëls is daar ’n verpligting om enige gevalle waar die plaag voorkom, aan te meld.
Wurms kan skade aan plante, en veral jong plantmateriaal, veroorsaak. Graan SA sê vroeë opsporing en identifikasie is die sleutel om die plaag te klop voordat dit ’n groot probleem word. Sommige ekonomies belangrike wurmspesies by graangewasse sluit in die Afrika-komandowurm, Afrika-bolwurm, Afrika-mieliestamboorder, Chilo-boorder, herfskommandowurm en valswurm.
Klik hier vir meer inligting oor die identifikasie van verskillende ruspespesies.
Intussen het Senwes op sy sosiale medianetwerke aangedui dat ’n uitbreking van die herfskommandowurm in die Senwes-bedieningsgebied bevestig is. Boere word gevra om met hul plaaslike landboukundige in kontak te tree as hulle die plaag in hul landerye teëkom.
By nadere ondersoek het Senwes bevestig dat die uitbraak in die Senwes-gebied egter van die Afrika-kommandowurm is, en nie Herfs-kommandowurm nie. Produsente moet asb. dringend hul lande ondersoek. Vir hulp kontak jou naaste Landboukundige. WhatsApp navrae na 082 551 2379. pic.twitter.com/ir13rSnwTX
— Senwes (@SENWES) March 29, 2019