As ’n vyfdegeslagboer in die suidweste van die Amerikaanse deelstaat Indiana is daar min wat mnr. Kevin Kalb nog nie van sy grond weet nie. Tog, sê hierdie uithalerboer, leer hy elke jaar ’n bietjie meer, streef hy na daardie ekstra persentasie en staan hy verbaas oor die resultate wat doeltreffendheid en gesonde grondlewe lewer.
Kalb boer al meer as 35 jaar lank en word as een van die topboere in Amerika beskou. Sy boerdery, Kevin Kalb Farms, produseer mielies, sojabone en kalkoene, maar dit is sy rekord as veertienmalige wenner van die nasionale mielie-opbrengskompetisie wat deur die nasionale mielieprodusentevereniging (NCGA) aangebied word, wat hom as kenner op sy gebied uitsonder.
Sy persoonlik beste mielie-opbrengs was in 2021, toe hy 409 skepels per acre, oftewel 27,5 ton per ha, op ’n gedeelte van een van sy lande gestroop het as deel van die opbrengskompetisie. Sy vyfjaargemiddelde opbrengs oor sy hele plaas beloop sowat 19 t/ha.