
Hoewel houtpale met kolonies wit slakke volop is tydens die somermaande in die Suid-Kaap, was dié indringer vanjaar ’n groot kopseer vir graanboere in die area. Volgens mnr. Pietman Uys, wat naby Witsand boer, het hy gemiddeld ongeveer 500 kg per hektaar, of bykans ’n kwart van sy hele kanola-oes verloor weens dié slakplaag. Hulle kom veral in kalkagtige areas voor.
“Jy kan op ’n land waardeur ’n kalkrif loop, sien hoe hulle gepak sit. Op ander gedeeltes is daar niks.” Uys sê die probleem is dat daar nie ’n chemiese middel is om die slakke te bekamp nie. Gifagente is radeloos.
“Die slakke is dié seisoen erger as die vorige seisoene toe dit droër was. Vanjaar sit hulle sommer spierwit in die kanolastokke waar jy platgesny het, en sommer twintig tot dertig slakke op ’n stok teenoor die gewone een of of twee hier en daar.”
Die slakke was ’n verdere kopseer tydens die oesproses. Aangesien die slak nat en slymerig is wanneer hy breek, pak hulle aan binne die stropers en verstop onder meer die siwwe.
Die slakke is nou in ’n rusperiode en versamel op die pale om weg te kom van die warm grond.